Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Sakeredders: SAL kán nog gered word, maar . . .

Om elke hoek en draai het die regering of vakbonde nog ’n stokkie voor die sakeredders van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se regrukplanne gesteek, maar daar is nog hoop indien die regering sy deel sal begin doen.

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se sakeredders wag op ’n verbintenis van die regering om die herstrukturering van die lugdiens te finansier.

Les Matuson en Siviwe Dongwana, gesamentlike sakereddingspraktisyns van die SAL, het Woensdag ’n verklaring uitgereik met die doel om te verduidelik wat presies met die sakereddingsproses aangaan nadat hulle al drie keer uitstel vir die finale plan gevra het.

“Dit is die eerlike mening van die sakereddingspraktisyns dat daar steeds ’n redelike vooruitsig is om die SAL te red, onderhewig aan die ontvangs van ’n onomwonde verbintenis tot die proses, sowel as die nodige finansiering (van die regering),” lui Matuson en Dongwana se verklaring.

“Dit sal ook so uiteengesit word in die sakereddingsplan wat eersdaags gepubliseer sal word.”

Vertragings

Die DA het al na die sakereddingsproses as ’n “klug” verwys nadat dit reeds op 5 Desember 2019 begin het en veronderstel was om binne 25 dae ’n sakereddingsplan te kon hê.

Die sakeredders het Woensdag verduidelik dat die aanvanklike sperdatum “onmoontlik” was om te haal.

Die feit dat die proses tydens die feestyd begin het, het beteken dat uitstel nodig was.

Teen 13 Januarie is ’n herstruktureringsplan aan die departement van openbare ondernemings voorgelê wat grootskaalse veranderinge aan vlugroetes asook die lugdiens se werksmag behels het. Die regering het in daardie stadium ’n opsie voorgestaan wat die lugdiens grootliks onveranderd sou hou.

Maar die sakeredders sê toe dit daarby kom dat die regering in die begrotingsrede die finansiering van die herstrukturering moes aankondig, was daar geen sprake daarvan in Tito Mboweni, minister van finansies, se toespraak nie.

Teen Maart was die plan weer laat, veral omdat daar geen kommunikasie was oor watter geld die regering wanneer vir die sakereddingsproses sou beskikbaar maak nie.

Die lugdiens toon al vir langer as ’n dekade geen wins nie en volgens Matuson en Dongwana was die uitgawes van die SAL maandeliks sowat R2,5 miljard toe die sakereddingsproses begin het. Hul kostebesparings het darem dié bedrag met R500 miljoen verklein, maar dit was steeds nie genoeg om die lugdiens aan die gang te hou sonder finansiering vir die herstrukturering nie.

Die reddingsboei van R5,5 miljard wat die SAL in 2019 ontvang het, was teen Maart al lankal op, sê die sakeredders, hoofsaaklik omdat salarisse aanhou betaal moes word.

En net mooi toe slaan die Covid-19-pandemie toe.

Covid-19

Met ’n finale plan in die hand het die pandemie en staat van inperking die hele plan in die wiele gery, sê die sakeredders.

Alle inkomsteramings en vooruitskattings was nutteloos in ’n omgewing waar dit onseker was vir hoe lank vlugte gestaak sal moet word. Dit is hier waar daar toe vir ’n derde uitstel gevra is.

Die sakeredders sê hul plan het toe geword om die lugdiens só te bewaar gedurende die staat van inperking dat daar nog ’n lugdiens oor sou wees om te red nadat die pandemie onder beheer gebring is. Dié plan het behels om alle uitgawes so ver as moontlik te bevries en “alle” personeel af te dank. Die regering was egter nie hiermee geneë nie – en die vakbonde ook nie.

Nadat die regering toe opdrag gegee het dat die lugdiens gered moet word en afdankings nie op so ’n groot skaal mag gebeur nie, het die sakeredders probeer om ’n kleiner getal mense af te lê, maar dit het ook nie geslaag nie. Daar is in ’n hofsaak hieroor in die arbeidshof in die guns van Numsa en die SAL Kajuitpersoneelvereniging (Sacca) beslis dat geen afleggings mag plaasvind alvorens daar nie ’n finale sakereddingsplan is nie.

Luidens Matuson en Dongwana se verslag is die grootste probleem egter steeds dat geen verbintenis tot finansiering vir die sakereddingsproses nog deur die regering gemaak is nie.

Die sakeredding kan voortgaan en die sakeredders appelleer tans teen die hofuitspraak ten gunste van die vakbonde om alle afdankings te staak, maar hulle hou vol dat geen plan sonder finansiering gefinaliseer kan word nie.

Die huidige sperdatum vir die finale sakereddingsplan is 29 Mei. Volgens die sakeredders sal die plan nog gepubliseer word, maar daar kan net sóveel aannames daarin gemaak word sonder kennis oor hoeveel finansiering die regering sal verskaf.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.