Hoewel die SAL in sy huidige formaat nie gaan oorleef nie, is die sakeredding waarin hy hom bevind, waarskynlik die beste besluit, sê Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient-groep.

Dawie Roodt Foto: Argief
Dit was Roodt se reaksie nadat Solidariteit Vrydag vergader het met die prokureurs van die SAL-direksie en Les Matusen, wat as sakereddingspraktisyn vir die SAL aangestel is.
Dr. Dirk Hermann, Solidariteit se bestuurshoof, het dié vergadering as positief beskryf en gesê van die voorstelle van georganiseerde arbeid, wat die vakbonde Numsa en Sacca insluit, wat deur die SAL oorweeg sal word, is dat:
- Cloete Murray (wat aanvanklik deur Solidariteit voorgestel is) as tweede sakereddingspraktisyn oorweeg word, en die SAL en Matusen onderneem om hom by die proses te betrek;
- Murray ook optree as onafhanklike voorsitter van die werkerskomitee in die sakereddingsproses om werkers se belange te verteenwoordig; en
- Vuyani Jarana, voormalige uitvoerende hoof van die SAL, vanweë sy ervaring ook by die proses betrek word.
Volgens Hermann het die SAL en Matusen ook ooreengekom dat Solidariteit sy sakereddingsplan kan voorlê wat hy in sy aanvanklike aansoek ingedien het.
Solidariteit het dié aansoek ingedien om die SAL in sakeredding te plaas voordat die regering skielik Woensdagaand bekend gemaak het dat die lugdiens in vrywillige sakeredding geplaas word.
Numsa en Sacca het Vrydagoggend ook ’n ultimatum aan die SAL gestel dat hulle as werkers ook deel wil wees van die sakereddingsproses en ook insae daarin wil lewer.

Pravin Gordhan Foto: Daily Sun
Netwerk24 Foto: Daily Sun
Die Mail&Guardian het Vrydag berig dat die SAL-direksie verlede Vrydag die lugdiens se personeel ingelig het dat hulle die lugdiens heeltemal gaan sluit en ’n proses van vrywillige likwidasie sou begin.
Dié koerant berig verder dat Pravin Gordhan, minister van staatsondernemings, ter elfder ure ingegryp en ’n stokkie daarvoor gesteek het.
Sam Mkokeli, Gordhan se woordvoerder, wou nie Vrydag kommentaar lewer op dié bewerings nie.
Roodt het verder gesê hoewel die SAL in sakeredding is, sal die belastingsbetalers steeds baie geld moet opdok omdat “ons nie weet wat die somme tans is nie”.
“Dit is ook onvermydelik dat baie mense hul werk gaan verloor.”
Roodt meen egter Gordhan is “die grootste probleem omdat hy hom sedert sy dae as minister van finansies gedurig by die sake van staatsentiteite, soos die SAL, inmeng”.
“Hy moet wegbly. Dit is waarom vorige uitvoerende hoofde bedank het.”
Volgens Roodt beskou hy ook die sakeredding as ’n ideologiese oorwinning vir Tito Mboweni, minister van finansies. Mboweni het al herhaaldelik gesê dat die SAL moet sluit.
“Dit is ’n verskriklike vernedering vir die regering dat Solidariteit se werk tot sy besluit moes lei. Daarom die vrywillige sakeredding en pogings om die inisiatief nou hul eie te maak.”
Roodt sê die groot vraag is egter wat volgende gaan gebeur en of ander staatsentiteite dieselfde pad gaan stap.
Wouter Wessels, VF Plus-LP en woordvoerder oor openbare ondernemings, sê dit is belangrik dat die SAL se sakeredding sonder inmenging moet geskied om sodoende ’n situasie te skep waarin die lugdiens gedeeltelik of in die geheel aanloklik kan raak vir ? private ekwiteitsvennoot.
Ghaleb Cachalia, DA-LP en woordvoerder oor openbare ondernemings, het gesê die DA is bly die regering het sy trots in sy sak gesteek en die SAL in sakeredding geplaas. Hy moet daarmee volhard al beteken dit dat hy die vakbonde moet teengaan.