Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAL, ander in parlement se spervuur
Die Suid-Afrikaanse Lugdiens is onder beleg.

Die beleërde Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se omstrede aanstelling van BNP Capital om sy skuld van R15 miljard teen ’n koste van R250 miljoen te herstruktureer, het Dinsdag weer in die parlement ter sprake gekom.

Die feitlik bankrot lugdiens se benarde finansiële en bestuursposisie is in die parlementêre staande komitee oor bewilligings as voorbeeld gebruik van hoe swak die meeste staats- en semistaatsinstellings, wat die kern van die regering se agenda vir radikale ekonomiese transformasie uitmaak, bestuur word.

Die stand van die SAL, sowel as die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa), die Poskantoor, die SAUK, die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa), die Vergoedingsfonds en die Sentrale Energiefonds en verskeie ander is op die sitting bespreek.

Die meeste van die ondernemings is in benarde finansiële posisies, hul verkrygingsprosesse voldoen nie aan die relevante wetgewing nie en hul leierskap word in twyfel getrek.

Phelelani Dlomo, een van twee navorsers wat die staatsondernemings se huidige stand van sake vir die komitee nagevors het, het gesê die SAL se geldsake is so sleg dat dit nie sonder ’n reddingsboei van R5 miljard van die tesourie kan voortbestaan nie.

“Die probleem is dat die tesourie gewillig is om ’n waarborg hiervoor met sekere bepalings te voorsien, maar dat die SAL-leierskap nie aan die bepalings wil voldoen nie.”

Dit is welbekend dat Dudu Myeni, huidige SAL-voorsitter, noue bande met pres. Jacob Zuma het.

Dlomo wou by die komitee weet wat gedoen sal word met entiteite soos die SAL omdat daar nie spesifiek vir reddingsboeie in die land se begroting begroot word nie, met die swak ekonomiese groei wat die situasie nog erger maak.

“As dié entiteite nie op hul eie voete kan staan nie, waar gaan ons die reddingsboeie vandaan kry?”

Oor BNP Capital het Dlomo gesê dit gaan ook die verstand te bowe hoe die bankrot SAL steeds R250 miljoen wil betaal aan ’n maatskappy wat nie ’n lisensie het om die lugdiens te help nie en hoe hulle aangestel is omdat daar nie ’n tender daarvoor geplaas is nie.

Die BNP Capital-kontrak is intussen gekanselleer.

Dlomo en sy kollega, Musa Zamisa, het die komitee versoek om dringend in te gryp en al die staatsondernemings opdrag te gee om voor die komitee te verskyn en die ondernemings tot verantwoording te roep om hul voortbestaan te verseker.

Meer oor:  Bnp Capital  |  Prasa  |  Suid-Afrikaanse Lugdiens  |  Eskom  |  Lynne Brown
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.