Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAL: Ander lugdienste lek lippe af vir Mango

Terwyl die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) om oorlewing veg, lek mededingers hul lippe af vir die sappigste deel van die SAL-groep – die laekostefiliaal Mango.

Die laekostelugdiens Mango is volgens kenners die waardevolste van die SAL se bates.

Safair en SA Airlink het albei aan Rapport bevestig hulle het hul belangstelling daarin aan die sakereddingspraktisyns oorgedra, en Comair sê hy is “oop vir enige geleentheid”.

Mango is volgens kenners die waardevolste van die SAL se bates. Die verkoop daarvan kan vir die SAL baie sinvol wees, mits dit verby die Mededingingskommissie kan kom, sê hulle.

Die suksesvolle vryer kan boonop koning kraai in die plaaslike vliegmark.

Safair, wat al lank as lugdiensmaatskappy gevestig is, bedryf sedert 2014 ook die laekostelugdiens FlySafair. “Ons het die sakereddingspraktisyns gekontak om te sê ons stel belang as enige van die SAL se bates verkoop sou word,” het Kirby Gordon, Safair-woordvoerder, aan Rapport gesê.

Volgens hom “lê Safair se belangstelling eintlik by Mango”.

Kgathatso Tlhakudi, waarnemende direkteur-generaal van openbare ondernemings, het bevestig dat FlySafair hom genader het oor Mango, berig Liesl Peyper. “Ek kan bevestig dat ons skriftelik genader is. Ons het die maatskappy na die sakereddingspraktisyns verwys omdat die lugdiens (Mango) tans onder hul rentmeesterskap val terwyl die sakereddingsproses aan die gang is.”

Volgens Rodger Foster, uitvoerende hoof en besturende direkteur van SA Airlink, is dié lugdiens ook in gesprek met die sakereddingspraktisyns “oor die verkoop van sekere SAL-bates wat Mango of ’n belang daarin insluit”. Dis nog te vroeg om te weet of daar enigiets van gaan kom, het hy bygevoeg.

Die JSE-genoteerde Comair, wat ’n volkoste-lugdiens onder die British Airways-handelsmerk en ’n laekostelugdiens onder Kulula.com bedryf, het nie spesifiek met die sakereddingspraktisyns oor die verkoop van Mango gepraat nie, maar is deel van die krediteurekomitee en “oop vir enige geleentheid”, het Susan van der Ryst, Comair se hoof van korporatiewe kommunikasie, by navraag gesê.

Die SAL skuld Comair skadevergoeding van ’n paar honderd miljoen rand weens vroeëre onmededingende gedrag.

Die sakeredders was nie bereid om te bevestig of die lugdiens deur voornemende kopers genader is of nie en of dit wel oorweeg sal word om Mango van die hand te sit nie.

Volgens die vervoerekonoom Joachim Vermooten is die suksesvolste model vir staatslugdienste ’n klein internasionale diens. Voorbeelde daarvan is Emirates (van Dubai), asook Katar en Singapoer s’n. Hy meen ook die aangewese weg vir die SAL is om net vyf of ses internasionale roetes te behou en sy ander filiale te verkoop.

Van dié filiale sal Mango en SAL Tegnies waarskynlik die meeste belangstelling lok, hoewel dit onmoontlik is om te weet wat in hul geldsake aangaan. (Die SAL het in 2017 laas finansiële state gepubliseer en was maar altyd snoep met inligting oor Mango se bedrywighede.)

Die SAL het reeds verskeie van sy binnelandse roetes na Mango verskuif. Gevolglik het Mango se vloot aangegroei van vier vliegtuie tot 15. Dis nou in eie reg ’n groot lugdiens, sê Vermooten.

Mango is nog altyd redelik afsonderlik van die SAL bedryf en ’n ander opsie sal wees om die laekostelugdiens te noteer, sê hy.

“ ’n Suiwer binnelandse lugdiens het geen strategiese waarde vir ’n staat nie, so waarom sal die staat met private ondernemings meeding in dié mark?”

Pleks daarvan om só markaandeel te probeer koop, sou ’n mededinger ook die strategie kon volg om bloot te wag en hoop dat Mango verdwyn en dan dié markaandeel te probeer verkry, sê Vermooten.

Derek Mans, die vakbond Solidariteit se organiseerder in die lugdiensbedryf, meen Mango is die SAL se waardevolste bate. Hy sê Mango se sakeplan is sterk genoeg om op sy eie te oorleef en Solidariteit sal dit ondersteun as daar private beleggers is wat die laekostelugdiens wil koop. Hoewel Solidariteit nie gekant sal wees teen ’n oorname deur een van Mango se mededingers nie, waarsku Mans die Mededingingskommissie kan dalk ’n stokkie daarvoor steek soos toe die beplande samesmelting van Safair en SA Airlink in 2018 verbied is.

Mango se lot kan bepalend wees vir die binnelandse vlieglandskap. Vermooten raam die binnelandse mark, vol- en laekostevlugte ingesluit, is tans soos volg verdeel:

  • Mango 20%
  • SAL 10%
  • SA Express 6%
  • SA Airlink 7%
  • kulula 20%
  • British Airways 17%
  • FlySafair 20%

Wat die laekostemark betref, het Mango, kulula en FlySafair volgens hom min of meer ewe groot aandele.

Enige van die drie mededingers wat Mango bekom, kan dus onmiddellik die markleier word.

Vermooten maan egter teen ’n mark wat deur twee groot spelers oorheers word.

“Al is daar nie samespanning nie, tree die een dikwels maar soos die ander op. Ekonomies gesproke is dit beter om minstens drie mededingers te hê.”

Meer oor:  Flysafair  |  Suid-Afrikaanse Lugdiens  |  Kulula  |  Sa Airlink  |  Comair  |  Mango  |  Staatsondernemings  |  Lugdienste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.