Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAL-baas: ‘Ons vliegtuie ís veilig’
Zuks Ramasia, waarnemende uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Lugdiens. Foto: Reuters

Zuks Ramasia, waarnemende uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), het Sondagaand in ’n verklaring gesê dat die vakbonde Numsa en Sacca se stellings dat die lugdiens se vliegtuie onveilig is, heeltemal onwaar is.

“Die vakbonde se bewerings is kwaadwillig en verteenwoordig ’n ongegronde aanval, sowel as ’n belediging vir die Burgerlugvaartowerheid (BLO), die SAL en SAL Tegnies,” sê sy in die verklaring.

Die SAL kom voor al hoe meer uitdagings te staan. Nie net staak ’n groot deel van sy arbeidsmag nie, maar moet hy ook vure doodslaan oor “onveilige” vliegtuie, terwyl dreigemente van ’n sekondêre staking toeneem.

Die SAL moes sedert Vrydag al sy plaaslike en streeksvlugte, asook sommige van sy internasionale vlugte, kanselleer nadat lede van Numsa en die Suid-Afrikaanse Kajuitpersoneelvereniging (Sacca) Vrydag begin staak het. Hulle is ontevrede oor die loonaanbod wat die SAL gemaak het. Die vakbonde eis 8% terwyl die lugdiens 5,9% aanbied.

Teen Maandag het die lugdiens weer internasionaal gevlieg en was daar planne in plek om van sy streeksvlugte Dinsdag weer te hervat.

‘Julle dobbel met jul lewe’

Ramaisa dreig die vakbonde met regstappe sou hulle nie hul bewerings dat die lugdiens se vliegtuie onveilig is, terugtrek nie.

eNCA berig egter dat Numsa sê hy gaan dit nie terugtrek nie.

“As Numsa en Sacca sal ons nie ons stellings terugtrek nie. Elke woord van wat ons gesê het, is waar,” het Phakamile Hlubi-Majola, woordvoerder van Numsa, Sondag aan eNCA gesê.

“Die SAL vertrou op onervare werknemers om die werk van kajuitpersoneel te doen. Hulle vertrou op tydelike tegnici om die vliegtuie te herstel en te onderhou.

“Ons waarsku Suid-Afrikaners wat met die SAL vlieg om hul vlugte te verander, want om met die SAL te vlieg terwyl ons staak, is om te dobbel met jou lewe.”

Sekondêre staking

Numsa en Sacca het Sondag gesê die vergadering wat hulle Saterdag met die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) gehad het, het geen oplossings gebring nie en hulle doen nou ’n beroep op ander vakbonde en lede om die staking tot die groter lugvaartbedryf in die land uit te brei.

LEES OOK: SAL-staking, érger aksie dreig ná bemiddeling misluk

Ramaisa waarsku dat sou so ’n staking wel realiseer, dit die land se ekonomie groot skade kan berokken.

“Die SAL is besorg oor die voorneme van Numsa om met alle belanghebbendes in die bedryf te konsulteer vir ’n omvattende lugvaartstaking.

“Die bedoeling van ’n sekondêre staking is om ontwrigting te veroorsaak, alle lughawebedrywighede tot stilstand te bring en groot skade aan die Suid-Afrikaanse ekonomie aan te rig,” sê sy in haar verklaring.

“ ’n Sekondêre staking sal die mededingendheid van die Suid-Afrikaanse ekonomie as geheel beïnvloed.”

Numsa het reeds ’n beroep op die vervoerwerkersvakbond Satawu en die National Transport Movement (NTM) gedoen om saam met hulle te staak.

Numsa het oor die naweek in ’n verklaring gesê dat hy nou met werkers begin reël om by maatskappye soos FlySafair, Mango, SA Express, Air Chefs, die BLO en die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (Acsa) te staak.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.