Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAL: Dié Mango aan die vrot

Die staat se laekostelugdiens, Mango, maar ook die ander SAL-filiale is in erge geldknyp.

En dís boonop ’n onderbeklemtoning.

Geoffrey Qhena
Mvuleni Qhena, waarnemende voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens. Hy was voorheen uitvoerende hoof van die Nywerheidsontwikkelingskorporasie. Foto: Elizabeth Sejake/City Press

Só het Mvuleni Qhena, waarnemende voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), parlementslede Vrydag gewaarsku.

Dis hoekom dit so belangrik is dat die R2,7 miljard wat deel is van die beloofde hulppakket van R10,5 miljard wat reeds vroeër vir die SAL goedgekeur is, uitgedeel moet word.

Dis ’n bedrag wat die nasionale tesourie nog terughou omdat die SAL-filiale wat dit benodig, tegnies nie deel was van die sakereddingsproses vir die SAL as lugdiens nie.

Die R819 miljoen hiervan wat Mango behoort te kry, is te min om Mango te red, het Qhena aan die parlement se staande komitee oor bewilligings gesê.

Sfiso Buthelezi, voorsitter van die komitee, verwag die parlementêre proses om die geld ingevolge die spesiale bewilligingswetsontwerp toe te ken, sal eers teen middel Junie afgehandel kan word.

Mango sukkel weens die insinking in ekonomiese aktiwiteit, maar SAL Tegnies en Air Chefs sukkel ook omdat sowat 80% van hul inkomste van die SAL se bedrywighede gekom het. Hulle was nie in sakeredding nie, maar sukkel om hul krediteure en salarisse te betaal. Afleggings het reeds by SAL Tegnies begin en ’n art. 189-proses gaan ook by Air Chefs met sy personeel van 1 160 mense begin, het Qhena bevestig.

Die SAL is intussen suinig met sy planne vir herlewing, al waarsku komiteelede dat mededingers sy markaandeel “vir ontbyt opeet” elke dag dat hy nie vlieg nie.

Wat is die reputasieskade vir Mango nadat hy in April tydelik sy vlugte moes staak?

mango
Mango-vlugte is in April gestaak weens onbetaalde rekeninge, en hy het dringend geld nodig. Vlugte is intussen hervat, maar daar is veel minder passasiers, het die parlement Vrydag verneem. Foto: Mango

Om te sê Mango is in tamatiestraat is ’n onderbeklemtoning van die krisis, het Qhena gesê.

Die staking van vlugte het beslis sy reputasie geskaad, en toe vlugte hervat is, was passasiersgetalle nie wat verwag is nie.

Die laekostelugdiens “brand deur kontant”.

Dis nie goedkoop om sulke groot masjiene (die vliegtuie) in stand te hou nie, so as hulle halfleeg of net driekwart vol vlieg, is dit onvolhoubaar. Mango se bestuur praat met krediteure, maar van hulle is senuagtig. Alles is nie wel by Mango nie.

Wanneer hoor ons van die strategiese aandeelhouersvennoot vir die SAL?

Melanchton Makobe, adjunkdirekteur-generaal vir regs- en bestuurskwessies by die departement van openbare ondernemings, sê gesprekke met ’n potensiële strategiese aandelevennoot vir die SAL is in ’n baie sensitiewe fase en hy kan nie nou meer detail gee nie. Hy verwag die proses kan binne die volgende maand afgehandel wees.

Wat gaan die SAL doen om sy verlore markaandeel terug te wen as hy eers weer vlieg?

“Dis waar dat mededingers ons markaandeel opvreet so lank as wat ons nie vlieg nie,” het Thomas Kgokolo, waarnemende uitvoerende hoof van die SAL, gesê. Maar hy wil nie nou detail-planne uitlek wat sy mededingende voordeel kan bedreig nie.

Die SAL kyk daarna om huurooreenkomste te hersien, soos om te betaal vir gebruik eerder as teen vaste maandelikse of jaarlikse termyne.

SAL
Thomas Kgokolo, nuwe tussentydse uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Lugdiens. Foto: Accountancy SA

Hy wil sy kundigheid met vragvervoer in die streek benut.

Hy sal fyn oorweeg watter roetes om te vlieg. Vir die eerste twee jaar sal slegs op binnelandse en streekroetes gefokus word, en eers daarna weer internasionale roetes. Slegs winsgewende roetes sal gevlieg word en elke roete sal sterk sakesin moet maak.

Die SAL sal moet kyk na sy infrastruktuur, die soort vliegtuie en die sitplekkonfigurasies om dit te herskik na gelang van markbehoefte.

Die SAL moet kontantbesteding tot die minimum beperk. “Elke sent moet die ekstra myl loop, moet verstandig bestee word en doeltreffendheid inbring te midde van die taai omgewing. Ons moet seker maak ons is robuus en moet besteding baie streng bestuur,” het Kgokolo gesê.

Die belangrike ding oor lugvaart is as jou koste handuit ruk, is jy in die moeilikheid, het hy gewaarsku. Daarom gaan personeel strenger verantwoordbaar gehou word oor waarop hulle geld uitgee, met beter gevolgebestuur.

“Ons moet meer doen met minder.”

Die SAL verwag om in Julie of Augustus vlugte te hervat, maar dit hang af van die Covid-19-pandemie, die inentingsprogram, of grense weer oopmaak, en die oplossing van die dooiepunt met vlieëniers se vergoeding.

Hoe gaan die dooiepunt met die vlieëniers opgelos word?

Die dispuut met die vlieëniers gaan volgens Qhena eenvoudig oor geld – hoeveel die vlieëniers glo hulle op geregtig is weens die herstrukturering, wat verskil van die SAL-bestuur se idees daaroor.

Die res van die SAL-personeel het reeds ’n ooreenkoms met die sakereddingspraktisyns bereik.

Die dispuut betrek ook die langtermynooreenkoms wat vlieëniers gehad het wat aan hulle sekere voorregte bied. Volgens Qhena is die bestuur se uitgangspunt dat almal opofferings moet maak, “maar ons is nie by daardie punt nie”.

Presies hoeveel het die sakereddingsproses gekos?

Die hele bedrag is R231 miljoen, waarvan die meeste aan verskeie konsultante en regsgeleerdes betaal is, met die sakereddingspraktisyns self wat R78 miljoen vir hul werk gekry het, het Fikile Mhlontlo, waarnemende finansiële hoof van die SAL, geantwoord.

Ondersoeke by die SAL

  • 84 SAL-kontrakte en 44 vliegtuighuurooreenkomste word ondersoek.
  • Die spesiale ondersoekeenheid is gevra om met siviele aksie in agt ander sake te help waaraan die Valke en die nasionale vervolgingsgesag reeds werk.
  • In die ondersoek na ’n kontrak met die Gupta-verwante Regiments en die internasionale konsultant McKinsey het McKinsey ingestem om R10 miljoen terug te betaal, maar die SAL onderhandel oor die rente op dié geld.
  • Die FlyFoFa-huurkontrak is na die SAL se senior regsadviseur verwys vir moontlike tersydestelling en ’n siviele eis.
  • Die senior regsamptenaar wat betrek is by ’n omstrede regsdienstekontrak is geskors.
  • Oor die saak van die Airbus-vliegtuie word bewyse nog ingesamel.
  • Diensverskaffers wat moes help met ’n omdraaiplan, gaan gevra word om R78 miljoen terug te betaal.
  • ’n Problematiese vliegtuigwiel-kontrak gaan ongeldig verklaar word.
Meer oor:  Sal Tegnies  |  Mango  |  Air Chefs  |  Thomas Kgokolo  |  Lugdienste  |  Sakeredding  |  Sal  |  Lugvaart  |  Suid-Afrikaanse Lugdiens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.