Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAL dien amptelik aansoek om sakeredding in
Die Suid-Afrikaanse Lugdiens is reeds van Donderdag 5 Desember in sakeredding. Foto: Reuters

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) het amptelik sy vrywillige aansoek om sakeredding by die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom (CIPC) ingedien, maar die vakbond Solidariteit gaan nie noodwendig sy eie proses staak as hy nie seker is die sakereddingspraktisyn is onafhanklik nie.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê ná gesprekke met die ander vakbonde by die SAL – Numsa en die Suid-Afrikaanse Kajuitpersoneelvereniging (Sacca) – het hulle besluit om aan die SAL te skryf om daarop aan te dring dat hy met die georganiseerde arbeid moet konsulteer oor die aanstel van ’n sakereddingspraktisyn.

Die SAL en die departement van openbare ondernemings se skakelpersone het nog nie gereageer op navrae nie, maar Hermann het bevestig die aansoek is amptelik ingedien by die CIPC. Hy is egter bekommerd oor die oorhaastige manier waarop die regering die proses aanpak.

Solidariteit het aanvanklik aangeneem hul eie hofaansoek sal wegval sodra die SAL se vrywillige aansoek ingedien word, maar Hermann waarsku die proses gaan misluk as die sakereddingspraktisyn nie heeltemal onafhanklik is nie. Andersins gaan hy nie die nodige politieke ruimte hê om te doen wat nodig is om die lugdiens te red nie, het Hermann gewaarsku.

Solidariteit se aansoek om die SAL se sakeredding sou op 13 Desember aangehoor word as die regering nie besluit het om self tot die stap oor te gaan nie.

Syfers van die CIPC wys dat 3 298 ondernemings teen Junie vanjaar al in sakeredding geplaas is sedert die meganisme in Mei 2011 bekend gestel is.

Hiervan is 1 275 ondernemings steeds onder administrasie, 400 is gelikwideer en net 571, oftewel 17%, is suksesvol omgekeer en gered. Die res van die gevalle is gestaak of is deur die howe van die hand gewys, berig Bloomberg.

Alastair Macduff, voorsitter van die Omkeerbestuursvereniging van Suider-Afrika (TMA-SA), glo sakeredding is die beste kans vir die lugdiens om te oorleef. TMA-SA is ’n vereniging wat die belange van sakereddingspraktisyns verteenwoordig en het meer as 65 gelisensieerde sakereddingspraktisyns as lede.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.