Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAL-drama: Mol gesoek terwyl geldhulp sloer

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se openbare uitval met sy uitvoerende hoof, Vuyani Jarana, het meer intens geword met ’n forensiese ondersoek na hoe sy bedankingsbrief uitgelek het.

Boonop het die SAL-direksie besluit om ’n vergadering eerder na ’n gebou te verskuif wat behoorlik gefynkam is vir afluistertoerusting uit vrees dat die mol verdere inligting kan laat uitlek wat finansiers en die markte kan ontsenu.

Daarby het die direksie Vrydag bekend gemaak dat Jarana sommer onmiddellik die pad vat eerder as om sy drie maande kennistydperk uit te dien. Zukisa Ramasia, bedryfsbestuurder, sal as uitvoerende hoof waarneem.

Jarana het in sy bedankingsbrief gesê hy kan nie sy mandaat uitvoer om die lugdiens reg te ruk met die direksie se gebrek aan samewerking, die regering se traagheid en verwarrende rapporteringslyne nie. Hy skryf in die brief onder meer dat daar al drie kere was wat die SAL amper nie salarisse kon betaal nie.

Die Mail & Guardian berig die direksie het Jarana versoek om eerder sy bedankingsbrief tot een bladsy te verkort en te sê hy tree uit weens sy gesondheid of persoonlike redes, maar sy striemende brief het eerder uitgelek. Hy het in ’n latere woedende brief aan die direksie geskryf die feit dat hy nou aan ’n forensiese ondersoek onderwerp word, is ’n poging om sy reputasie te skaad.

Presies hoe futiel Jarana se pogings by die lugdiens was, blyk uit Rapport se opvolgvrae oor die regrukstrategie wat hy in November verlede jaar in die parlement voorgehou het.

Hy het baie spesifieke stappe aangekondig wat deur LP’s verwelkom is – soos dat herstruktureringsbriewe op 1 November uitgedeel is om van altesame 294 oortollige kajuitpersoneellede ontslae te raak. Net 71 het vrywillig skeidingspakkette aanvaar.

Werner Human, uitvoerende adjunkhoof van Solidariteit, het aan Rapport bevestig die afleggingsproses het net daar ’n stille dood gesterf.

“Die burokratiese prosesse en die staat het dit vir Jarana onmoontlik gemaak om sy reg­rukplanne in werking te stel. ’n Mens sou dink dat die SAL-direksie en die minister vir hom soveel ruimte moontlik sou gun om die planne in werking te stel, maar dit was nie die geval nie.”

In plaas daarvan dat die SAL Vrydag terugvoering gegee het oor die gedetailleerde regrukplan en waarom daar dadels van gekom het, het Martin Kingston, nie-uitvoerende direkteur van die SAL en ’n bankier by Rothschild & Co, eerder uitgevaar oor die “kultuur” van ongehoorsaamheid soos blyk uit die uitlekking van Jarana se brief.

Kingston sê die SAL het skuld van R12,7 miljard wat binnekort terugbetaal word, terwyl die lugdiens ’n bykomende R4 miljard benodig om tot 2020 te kan funksioneer. Daarbenewens sal ’n lening van R9,2 miljard later vanjaar opeisbaar word.

Kingston sê die SAL is tans in gesprekke gewikkel met plaaslike en internasionale finansiers asook die regering om ’n geldelike oplossing te probeer vind vir sy benarde finansies.

Lugvaartkenners sê Vrydag se mediakonferensie het dit net duideliker gemaak dat sakeredding die enigste oorblywende opsie vir die SAL is.

Dr. Joachim Vermooten, onafhanklike lugvaartekonoom, het aan Rapport gesê die direksie wou die indruk wek dat alles soos normaal sal voortgaan.

“Maar die regering het eenvoudig nie meer die vermoë om die SAL geldelik te hulp te snel nie.”

’n Maatskappy wat aan sakeredding onderworpe is, kan meer indringend fokus op sy regrukplanne, sê hy.

Soos Vermooten glo Human ook dat sakeredding die SAL se enigste opsie is.

“Dit is inderdaad moontlik vir die lugdiens, wat onderhewig is aan die Maatskappywet, om vrywilliglik daarvoor aansoek te doen.”

Solidariteit het egter reeds in 2018 hofstukke voorberei om die SAL tot sakeredding te dwing, maar dit is vir eers op die lange baan geskuif ná ’n versoek van Jarana.

Noudat Jarana vort is, sal die vakbond egter voortgaan met sy aansoek.

“Ons wil ons eie aansoek indien en as dit slaag, sal ons by magte wees om ons eie sakereddingsbeampte vir die SAL aan te stel.”

Alf Lees, DA-LP en voormalige woordvoerder oor finansies wat die afgelope vyf jaar nou betrokke was by die SAL se verslagdoening aan die parlement, het ook beaam dat ’n sakereddingsaansoek die SAL se enigste oorblywende opsie is.

“Dit is óf dit óf likwidasie. As die SAL in sakeredding geplaas word, beteken dit daar is nog ’n kans om 6 000 poste te behou en die lugdiens sal van ondergang gered kan word. Dan kan die proses om die SAL te verkoop ook begin word. Soos sake nou staan, sal niemand die SAL wil koop nie.”

Lees meen die feit dat die regering voete sleep met finansiële hulp is Tito Mboweni, minister van finansies, se manier om van die lugdiens ontslae te probeer raak.

Mboweni het by verskeie geleenthede die mening uitgespreek dat die SAL verkoop moet word.

“Dit is ’n opsetlike poging om die SAL uit te honger vir geld,” sê Lees.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.