Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAL: Durban-werkers hoor glo poste is in gedrang

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) het glo reeds stilletjies begin om werkers in te lig dat hulle nie in Maart moet terugkeer werk toe nie.

Mail & Guardian het Donderdag berig dat ’n bestuurder werknemers verlede week op die Koning Shaka-lughawe in Durban meegedeel het dat “hulle hulle maar daarop moet voorberei om in Maart in die werkloosheidsry te gaan staan”.

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens sê het onlangs bykans alle plaaslike vlugte gekanselleer. Foto: Reuters

Dit was glo op 7 Februarie – ’n dag nadat Les Matuson en Siviwe Dongwana, sakeredders van die SAL, aangekondig het dat 11 van die lugdiens se roetes van Maart af geskrap gaan word omdat dit onwinsgewend is.

Plaaslik sal net die roete tussen Johannesburg en Kaapstad oorbly. Veral werknemers in Durban word dus geraak.

Die sakeredders het egter nog nie amptelik in hul gesprekke met vakbonde oor afleggings gepraat nie.

Hulle het wel aangedui dat dit nodig sal wees, maar onderneem dat “alles moontlik gedoen sal word om die omvang daarvan te beperk”.

Maar die bestuurder in Durban het dit glo duidelik gestel dat met geen SAL-vlugte na Durban nie, sal daar van 1 Maart af nie meer werk vir SAL-werknemers daar wees nie.

Die regering is nie tevrede met die sakeredders se besluit om veral byna al die lugdiens se plaaslike roetes te skrap nie, maar die sakeredders hou vol dit is nodig om te verseker dat die SAL weer winsgewend word.

Broodnodige finansiering van sowat R8 miljard om die sakereddingsproses te voltooi, is nog nie bekom nie. Plaaslike banke weier summier om geld aan die SAL te leen, selfs al sou die staat sulke lenings waarborg.

Bloomberg het Donderdag berig dat die SAL dit oorweeg om sy twee gesogte oornagtydgleuwe op Heathrow in Londen te verkoop. Die lugdiens gebruik tans net een van die twee nagtydgleuwe wat hy vir opstyg en landing het en kan sy Johannesburg-Londen-roete na die goedkoper dagtydgleuwe skuif, sê mense met kennis van die saak wat nie geïdentifiseer wil word nie omdat geen amptelike aankondiging nog gemaak is nie.

Dit sal die omkeertyd vir vlugte korter maak en dit moontlik maak om die meer waardevolle nagtydgleuwe te verkoop.

Oman Air het in 2016 ’n naglandingstydgleuf by Air France-KLM vir $75 miljoen (sowat R1,1 miljard) gekoop.

Tlali Tlali, woordvoerder van die SAL, het per e-pos aan Bloomberg gesê: “Die SAL vlieg steeds na Londen en die sakereddingspraktisyns se onlangse aankondigings bevestig dit. Dit beteken dat die huidige Heathrow-tydgleuwe deel van die SAL se portefeulje bly.”

Die tydgleuwe hoef nie gebruik te word vir vlugte spesifiek tussen Brittanje en Suid-Afrika nie omdat dit bloot landings- en opstygregte op Heathrow gee.

Meer oor:  Suid-Afrikaanse Lugdiens  |  Tlali Tlali  |  Durban
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.