Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAL: Dwarsklap vir belastingbetaler

Uiters rojale skeidingspakkette van gemiddeld R589 000 elk word tans vir SAL-werkers aangebied, waarvoor belastingbetalers R2,2 miljard sal moet opdok.

SAL-passasiers op die Kaapstadse Internasionale Lughawe in Februarie vanjaar.Foto: jacques stander

Dit sluit terugwerkende verhogings en aansporingsbonusse in.

Tog is dit vir verskeie vakbonde nie genoeg nie.

Dít kom terwyl maatskappye waarmee die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) sake gedoen het, gelukkig sal wees as hulle 7,5c kry vir elke rand wat die bankrot redery hulle skuld. Dié skuld, wat maatskappye waarskynlik op hul mae kan skryf, beloop sowat R11 miljard.

Dit sluit nie die banke se skuld in nie. Dís deur die regering gewaarborg, dus sal die banke al hul geld terugkry.

Die aanvaarding van die skeidingspakkette is ’n voorvereiste vir die goedkeuring van die SAL se reddingsplan, waarvolgens die personeel van die huidige 4 700 tot sowat 1 000 verminder word.

Krediteure sou Donderdag daaroor gestem het, maar die stemming is uitgestel nadat vakbonde en krediteure gesê het die plan is gebrekkig.

Hulle vergader nou weer op 14 Julie daaroor.

Hoewel die sakereddingspraktisyns aangedui het die regering is bereid om die plan te finansier, is dit steeds nie duidelik waar die geld vandaan gaan kom nie. Tito Mboweni, minister van finansies, het in sy noodbegroting vandeesweek geen bykomende geld vir die redding van die SAL beskikbaar gestel nie, wat beteken daar is steeds net voorsiening vir die betaling van die SAL se gewaarborgde skuld van R16,4 miljard.

Om die plan te finansier verg ’n bykomende R10 miljard.

Die vakbond Solidariteit het die pakkette aanvaar, maar die National Union of Metalworkers (Numsa), die Vereniging vir Kajuitpersoneel (Sacca) en die Vlieëniersvereniging (Saapa) meen steeds dit is te min.

Dié pakkette is volgens die arbeidskenner Chris Jacobs, ’n direkteur van OIM Internasionaal, onbekostigbaar en heeltemal uit pas met wat werkers in die private sektor in ’n soortgelyke situasie sou kry.

Dawie Roodt, hoofekonoom by die Efficient-groep, sê die pakkette is buitensporig. In die private sektor kry werkers eenvoudig niks as daar nie geld is nie, sê hy.

Volgens hom word krediteure in vergelyking met werkers uiters stief behandel, wat die boodskap aan sakelui stuur om eenvoudig nie met die regering sake te doen tensy hulle vooraf kontant betaal nie.

Volgens ’n vertroulike brief wat die waarnemende direkteur-generaal van openbare werke, Kgathatso Tlhakudi, Dinsdag aan vakbonde gestuur het en wat Rapport onder oë gehad het, word SAL-werknemers die volgende aangebied:

  • ’n Skeidingspakket gelykstaande aan een week se salaris vir elke jaar diens;
  • Salaris vir ’n kennismaand;
  • Uitbetaling van opgehoopte verlof;
  • ’n Pro rata- 13de tjek;
  • Aanvullende betaling as bogenoemde uitwerk op minder as R200 000 om dit tot op dié vlak te kry;
  • Dié pakkette word bereken op grond van ’n salarisverhoging van 5,9%, terugwerkend tot 1 April verlede jaar;
  • Agterstallige betalings ingevolge dié salarisverhogings en bereken tot 31 Julie; en
  • Aansporings van R100 000 vir werkers wie se totale koste van indiensneming minder as R450 000 per jaar is, R75 000 vir dié wat tussen R451 000 en R550 000 per jaar verdien en R50 000 vir dié wat tussen R551 000 en R750 000 verdien.

Volgens Jacobs is niemand geregtig op ’n 13de tjek nie en behoort die verlof wat uitbetaal word, beperk te word tot ’n verlofsiklus van een jaar. Dis nie duidelik of dít hier die geval is nie.

Volgens Tlhakudi se brief is daar in November 2019 ooreengekom op die salarisverhoging.

Wat hy nié sê nie, is dat dit gevolg het ná ’n staking wat die lugdiens se ondergang verhaas het, en daar spesifiek bepaal is dat die verhogings net ’n werklikheid sou word as geld beskikbaar is.

Uit Tlhakudi se brief blyk minstens R800 miljoen van die R2,2 miljard wat die pakkette sal kos, is ekstra sous uit die SAL-soustrein. Dít is ook meer as die totale bedrag van R600 miljoen wat voorsien word om krediteure te betaal.

Volgens die dokument sal vlieëniers gemiddeld R1,9 miljoen per persoon kry, kajuitpersoneel R352 000, vrag- en bedryfspersoneel R351 000, dié wat op die nabootser werk R476 000, kantoorpersoneel R379 000 en bestuur en spesialiste R477 000.

Jacobs sê die SAL se “swaar” arbeidsmag was ’n faktor in sy ondergang.

Volgens ’n bron in die lugvaartbedryf wat gevra het om anoniem te bly, is die salarisse van die SAL se kajuit- en bedryfspersoneel sowat 50% hoër as die bedryfsnorm. Vlieëniers verdien sowat 2,4 keer hul eweknieë se salarisse, en kantoorpersoneel 2,3 keer die bedryfsnorm.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.