Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAL gaan húl vlerkies knip

Gelyke indiensneming sal swaarder weeg as senioriteit in besluite oor watter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se 625 vlieëniers by die “nuwe” SAL oorbly.

’n SAL-Airbus A319 saam met die lugmag se Silwer Valke op ’n lugskou in 2007.

Dié 88 sal – soos die res van die personeel – boonop sowat die helfte minder betaal word as tans.

Dié voorstelle is vervat in ’n kennisgewing wat die SAL se sakeredders onlangs aan vakbonde gestuur het om die herstrukturering van die lugdiens se personeel amptelik aan te kondig.

Die sakeredders, Les Matuson en Siviwe Dongwana, het die afgelope week aangekondig daar is voldoen aan al die voorwaardes om die reddingsplan waarvoor krediteure vroeër gestem het, tot uitvoer te bring. Dít beteken die SAL-bestuur moet die herstrukturering behartig.

Dit lyk of hulle hul hande kan vol hê met vakbonde wat tans kollektiewe ooreenkomste met die SAL het.

Eerste in die visier is waarskynlik die SAL-vlieëniersvereniging (Saapa). Die SAL se aandeelhouer, die departement van openbare ondernemings, het die vereniging in ’n verklaring op 13 Julie van gierigheid beskuldig tydens onderhandelinge oor vrywillige skeidingspakkette.

Die departement het dit in sy verklaring openbaar gemaak dat die sowat 600 vlieëniers 13% van die lugdiens se personeel uitmaak, maar 45% van die salarisrekening verteenwoordig. “Die laagste van die SAL se senior vlieëniers verdien R3,6 miljoen sonder voordele en aansporings.”

Van die R2,2 miljard wat vir vrywillige skeidingspakkette toegewys is, sal vlieëniers meer as R1 miljard kry. In die herstruktureringskennisgewing word uiteengesit dat vlieëniersalarisse by die nuwe SAL sal wissel tussen sowat R950 000 en R2,1 miljoen per jaar, met ’n premie van 20% as hulle sekere vliegtuie vlieg.

Wat die seleksiekriteria betref, wil die SAL die “laaste-in-eerste-uit”-beginsel toepas. Dít bevoordeel personeel met langer diensjare. Dít sal onderhewig wees aan vaardighede, kwalifikasies en ervaring in die spesifieke pos.

Daarbenewens, lui die kennisgewing: “Om historiese wanbalanse wat verband hou met sekere kollektiewe ooreenkomste wat voordele vasstel wat met senioriteit gepaard gaan, behoorlik te takel, stel die maatskappy voor dat die uitslag beoordeel word met ’n gelyke-indiensnemingsveto in gedagte om billike verteenwoordiging van swart, vroulike en gestremde werkers te verseker.”

Dít is ’n verwysing na die SAL se kollektiewe ooreenkoms met Saapa, wat voorsiening maak vir ’n senioriteitstelsel waarvolgens vlieëniers bevorder word, sê Derek Mans, die vakbond Solidariteit se verteenwoordiger in die lugvaartbedryf.

Volgens Guy Leitch, redakteur van SA Flyer Magazine, is senioriteit internasionaal ’n aanvaarde stelsel by lugdienste. Dit behels dat ’n vlieënier agter in die ry staan die dag dat hy by ’n lugdiens aansluit en opskuif op die senioriteitslys namate poste hoër daarop vakant raak. Wanneer ’n vlieënier volgens sy senioriteitsposisie vir bevordering kwalifiseer, moet hy steeds aan die nodige kwalifikasie- en ander vereistes voldoen voordat hy die spesifieke pos kry. Dit is volgens Leitch ’n billike stelsel wat inmenging op grond van onvanpaste oorwegings uitskakel.

Volgens Mans is Solidariteit daarvan oortuig dat die toepassing van ander kriteria vir vlieëniers, naamlik gelyke indiensneming, diskriminerend is en die vakbond sal dit beveg.

Kapt. Grant Back, voorsitter van Saapa, wou nie kommentaar lewer oor die voorgestelde kriteria en nuwe SAL-diensvoorwaardes nie. Hy het beklemtoon dat Saapa ’n ooreenkoms met die SAL het, hoewel hulle ingestem het om salarisse in pas te bring met die res van die bedryf s’n.

Dít is volgens Leitch egter so wyd soos die Heer se genade. Tans is die SAL se salarisse aansienlik hoër as dié van plaaslike laekoste-lugdienste en selfs Ethiopian Airlines. Dit is egter laer as dié van die Midde-Oosterse lugdienste, sê hy.

Saapa het volgens hom ’n model waarvolgens hulle hul lede se salarisse bereken in pas met dié van ander vergelykbare lugdienste, maar dan ook voorsiening maak vir die lewenskoste in die betrokke land. Of Saapa bereid sal wees om daarvan af te sien, sal die tyd leer.

Volgens Mans begin die konsultasie oor die SAL se herstrukturering op 11 Augustus onder leiding van die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA). Dan sal die afleggingskriteria vasgestel word.

Daarna kan onderhandelinge oor nuwe diensvoorwaardes begin, sê hy.

Diensvoorwaardes is onderhewig aan bestaande kollektiewe ooreenkomste met vakbonde en die SAL sal dié ooreenkomste eers moet heronderhandel voor hulle diensvoorwaardes kan wysig, sê Mans.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.