Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAL gáán nog R3,5 mjd. kort

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) gaan nog R3,5 miljard se reddingsboeie kort oor die volgende drie jaar, maar LP’s meen dit kan selfs meer word.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings. Foto: Getty Images

Die SAL en die departement van openbare ondernemings was Woensdag voor die parlement se portefeuljekomitee oor openbare ondernemings om verslag te doen oor die vordering met die lugdiens se planne en sy vooruitsigte vir die toekoms.

In ’n voorlegging aan die komitee het Melanchton Makobe, waarnemende direkteur-generaal van die departement, bevestig die R10,5 miljard wat aan die SAL toegestaan is, is nie al wat nodig is om die lugdiens ten volle te herkapitaliseer nie.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het op sy beurt egter gesê dit is “niks nuut” dat die lugdiens nog R3,5 miljard oor drie jaar gaan kort nie – dit was blykbaar altyd die plan.

Dit sal die totale reddingsboei aan die SAL op R14 miljard te staan bring sedert hy in Desember 2019 in sakeredding gegaan het.

Volgens Makobe sal die bykomende R3,5 miljard hoofsaaklik gebruik word om die laaste krediteure van die SAL af te betaal, ten bedrae van R2,3 miljard.

Hierdie krediteure is ongesekureerde krediteure wat laaste in die ry staan en lopende dienste aan die SAL gelewer het, maar geen sekuriteit vir hul lenings aan die SAL gehad het nie.

Die oorblywende R1,2 miljard is vir die oorblywende terugbetalings aan kliënte wat vliegkaartjies gehad het wat nooit benut is nadat die lugdiens vlugte moes staak nie.

Ghaleb Cachalia, DA-LP, het gewys op kenners se voorleggings aan die komitee dat die SAL vir vier tot vyf jaar nog verliese sal ly nadat hy vlugte hervat het voordat hy weer wins kan begin behaal.

Volgens die DA beteken dit die lugdiens sal meer as die R3,5 miljard van die staat kort.

Strategiese ekwiteitsvennoot

Maar Gordhan sê die hele rede vir die sakereddingsproses, wat op 30 April geëindig het, was om ’n lugdiens te skep wat voortaan nie meer van die fiskus afhanklik is nie.

Die strategiese ekwiteitsvennoot (SEV) wat die SAL nou besig is om te bekom is juis as opsie gekies sodat hy die kontant sal verskaf wat die SAL voortaan benodig, sê Gordhan.

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens se sakeredding het op 5 Desember 2019 begin en op 30 April ten einde geloop.

“Dis die ooreenkoms wat ons beklink: Die strategiese ekwiteitsvennoot verskaf die kontant, en ons verseker dat die lugdiens solvent is en ‘skoongemaak is’ van skuld met ons herkapitalisering.”

Die SEV sal volgens Gordhan binne vier tot ses weke aangekondig word. Hierdie vennoot sal die bedryf van die lugdiens oorneem en hom deels privatiseer.

Geen aanduiding is gegee oor wie die voorkeurbieër tans is nie, maar voorheen is berig dat Ethiopian Airways belang gestel het om die SAL oor te neem.

Volgens Gordhan was daar aanvanklik 30 geïnteresseerde partye, maar dit is deur ’n konsultant verklein tot slegs vyf wat die verkryging eintlik sou kon bekostig.

Hierdie vyf bieërs het op ’n spesiale geleentheid vroeër vanjaar ook aan die waarnemende bestuur van die SAL voorleggings gedoen sodat die bestuur ook hul insette en voorkeure kon opper.

Die kortlys is nou nóg kleiner, sê Gordhan, en die departement is in “finale gesprekke” met die kandidate.

Sakeredding

Die sakereddingsproses, wat nou beëindig is, het die staat meer as R220 miljoen gekos, bevestig Gordhan. Die finale syfer word nog geoudit en sal dus eers later bekend gemaak word.

Op ’n vraag of die staat waarde vir die geld gekry het, het Gordhan eers gelag voordat hy geantwoord het.

“Ek weet nie. Daar is vir seker voorbeelde van ander sakereddingsprosesse wat meer doeltreffend was,” het Gordhan gesê.

Een van die kwessies wat die sakeredders nooit opgelos gekry het nie, was die skikking met die vlieëniers.

Die SAL-Vlieëniersvereniging (Saapa) weier steeds om die SAL se voorgestelde wysigings van die sogenaamde “regulerende ooreenkoms” te aanvaar.

Makobe verduidelik die staatsonderneming het wel daarin geslaag om Saapa sover te kry om in te stem oor die vrywillige skeidingspakkette wat die SAL aanbied, maar dat die regulerende ooreenkoms nog ’n probleem bly.

Saapa soek ook vergoeding vir die maande wat hy nou al uitgesluit is uit die lugdiens, sedert 18 Desember 2020.

Makobe sê indien ’n ooreenkoms nie bereik kan word nie, het die SAL hofstukke by die arbeidshof in Johannesburg ingedien om te beslis oor die twee kwessies waaroor nog vasgesit word.

Dit sal blykbaar die saak oplos.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.