Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAL gaan wel herstruktureer

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) gaan uiteindelik herstruktureer en mense kan hul werk verloor.

Die SAL het Maandagmiddag aangekondig dat 5 146 werknemers in kennis gestel is dat hulle met ’n herstruktureringsproses gaan begin wat met werkverliese gepaard kan gaan.

Die herstrukturering sluit SAL-filiale SAL Tegnies, die Mango-lugdiens en Air Chefs uit.

Zuks Ramasia, waarnemende uitvoerende hoof van die SAL het in ’n verklaring gesê dat die lugdiens ingevolge die Wet op Arbeidsverhoudinge begin het met ’n konsultasieproses met alle werknemers.

Ramasia sê dat die SAL die afgelope paar jaar verskeie uitdagings in die gesig gestaar het, waaronder befondsings- en kontantvloeiprobleme en die hoë koste op lenings.

“Ons voortgesette verliese en afhanklikheid van staatswaarborge om geld te gaan leen, het die koste van rente verhoog wat ’n uitwerking het op die bedryfskoste van die besigheid,” het sy gesê.

Ander uitdagings sluit in ’n wisselende en onstabiele brandstofprys, onvoldoende inkomste- en kontantgenerering teenoor bedryfskoste en ’n verouderende vliegtuigvloot wat brandstofondoeltreffend en duur is om te onderhou. Ramasia sê dit maak dit moeilik vir die SAL om in die mark mee te ding.

Fin24 het verlede week aan die hand van ’n bron berig dat die SAL skynbaar skarrel om voor 20 November R2 miljard in die hande te kry.

Tlali Tlali, woordvoerder van die SAL het toe in antwoord op ’n vraag oor die geskarrel gesê dat die R2 miljard “nog altyd deel was van ons vereistes vir werkskapiaal, so dié is niks nuut nie.” Hy het toe gesê dat die SAL in die proses is “om daardie vereiste bedrag te bekom”.

Die SAL het oor die afgelope 13 jaar R28 miljard se verliese opgebou. In sy toespraak oor die mediumtermynbegrotingsraamwerk het Tito Mboweni, minister van finansies onlangs aangekondig dat die staat die SAL se staatsgewaarborgde skuld van R9,2 miljard “oor die volgende drie jaar” sal afbetaal om die redery se kantraktuele verpligtinge na te kom.

Dr. Azar Jammine, direkteur en hoofekonoom van Econometrix, het gesê hoewel hy nie spesifieke kennis dra oor die R2 miljard nie, is dit die soort ding wat die afgelope paar jaar in die SAL gebeur het. Die redery, het hy gesê, kry kredietlyne wat dan uitloop en moet van voor af geld leen.

“Die handelsbanke het ’n bietjie nukkerig begin raak om geld aan die SAL te leen sonder die nodige staatswaarborge weens die reuse verliese wat die redery gely het,” het Jammine aan Fin24 gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.