Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAL: Geld is een ding, maar hoe steel jy ’n enjin?

Geld wat voete kry by die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) laat miskien nie meer wenkbroue lig nie, maar LP’s het die afgelope week kopgekrap oor hoe selfs vliegtuigenjins daar weggedra word.

In een geval is ’n stuk toerusting wat 3 ton weeg en R15 miljoen werd is, by Saat uitgedra.

Die parlementêre komitee oor openbare rekenings (Skoor) het die skokontdekking gemaak tydens ’n besoek aan die SAL se tegniese afdeling (Saat).

Themba Godi, voorsitter van die komitee, het ná die besoek gesê Saat is ’n “stropersparadys” wat van binne leeggesteel word.

In een geval is ’n stuk toerusting wat 3 ton weeg en R15 miljoen werd is, by Saat uitgedra.

Die diewe kon met hul buit wegkom omdat die kringtelevisiekameras nie gewerk het nie.

Godi sê dis onmoontlik dat individue soveel skade kon aanrig en dat dit die werk van ’n sindikaat moet wees.

Ahmed Bassa, voorsitter van Saat se tegniese komitee, het aan komiteelede gesê 11 personeellede is reeds geskors en gaan strafregtelik vervolg word. Nog personeellede kan geskors word namate forensiese ondersoeke nóg skandes ontbloot.

Saat het ’n kontrakteur R155 miljoen betaal om sy voorraad op te pas. Die verliese beloop nog meer as dit.

Saat is verantwoordelik vir die instandhouding van die SAL en Comair se vliegtuie. Tekorte aan onderdele het Comair genoop om sy nuwe Boeing 737 Max 8- vloot deur Lufthansa Technik te laat versien. Sy kontrakte met Saat sal moontlik ook heroorweeg word wanneer die termyne verstryk.

Themba Godi, voorsitter van die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge. Foto: Jaco Marais

Godi sê korruptes in senior poste skop vas teen ingrypingsplanne en broodnodige reorganisasie by die SAL en Saat.

Ingeligtes het aan Rapport gesê nog skorsings van senior bestuurders, onder wie bestuurders wat die voorsieningskettingkontrakte op hoofkantoorvlak beheer het, is op pad.

Die SAL se kontrak met sy veiligheidsmaatskappye en die een wat kringtelevisiedienste voorsien, loop oor ’n jaar ten einde.

Die prokureursfirma ENS Africa het ná ’n ondersoek ’n jaar gelede aanbeveel dat adv. Nontsasa Memela, hoof van aanskaffing, en Naomi Kwinda, ’n aanskaffingspesialis by die SAL, geskors word. Dudu Myeni, voormalige direksievoorsitter, en Musa Zwane, die hoof van Saat, het dié stappe glo gestuit, verneem Rapport.

Myeni het ook ondersoeke na sekere kontrakte verhinder. Dié ondersoeke gaan nou heropen word. Rapport verneem dit sluit in die kontrakte met JM Aviation en Kintetsu World Express (KWE), wat vroeër reeds as moontlik onreëlmatig in forensiese verslae geïdentifiseer is weens beweerde oorbetalings. KWE het sowat R266,8 miljoen verdien vir bestuurstelsels in die voorsie- nings­ketting.

Open Water Advanced Risk Solutions het in ’n forensiese ondersoek bevind dat JM Aviation saam met ’n Amerikaanse vennoot, AAR Corp, R1,4 miljard oor vyf jaar sou verdien vir die verskaffing van onderdele en onderhoudstelsels.

Vuyani Jarana, uitvoerende hoof van die SAL, het aan Skoor-lede gesê as Saat reggeruk kan word, is een van die SAL se grootste kopsere op ’n einde.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.