Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAL: ‘Geskokte’ Myeni sê sy is sondebok gemaak

Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se direksie, se eerste dag in die hooggeregshof in Pretoria is gekenmerk deur haar uitlatings oor hoe “geskok” sy is oor die bewerings teen haar.

Myeni het Donderdag vir die eerste keer by haar verhoor opgedaag om te getuig in die aansoek om haar as misdadige direkteur te verklaar.

Die hofsaak sloer al vir bykans vyf maande sonder dat sy een keer in die hof was.

Volgens haar is al die bewerings wat teen haar gemaak word, onwaar. Sy is die slagoffer.

Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die SAL, getuig Donderdag in die hooggeregshof in Pretoria in die hofsaak om haar as misdadige direkteur te verklaar. Foto: William Horne

“Dit gaan maar soos ons verwag het,” sê Stefanie Fick, hoof van regsake by die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa), Donderdag buite die hof.

“Sy gaan nou eers alles ontken. Ek sien eerder daarna uit om te sien of sy gaan uithou onder kruisverhoor.”

Outa bring saam met die Suid-Afrikaanse Lugdiens se Vlieëniersvereniging (Saapa) die saak teen Myeni.

Adv. Caroline Steynberg SC, vir Outa en Saapa, sal Myeni na verwagting Vrydag kruisondervra.

Myeni het Donderdag getuig oor hoe patrioties haar gedrag as voorsitter van die SAL van 2012 tot 2017 was.

“Ek is ’n deskundige in regering en bestuur,” het sy aan regter Ronel Tolmay gesê.

Myeni het haar posisie “in sowat 15” direksies as bewys van haar vermoëns voorgehou.

Sy het die bewerings ontken dat sy haar pos by die SAL bekom het danksy haar vriendskap met oudpres. Jacob Zuma.

Daar was niks verkeerd nie, sê sy. Zuma het eers van haar naam op die kortlys vir die pos bewus geword toe die kabinet haar as kandidaat bespreek het, voer sy aan.

“Is jou naam Cynthia?” het hy haar glo later gevra. Cynthia is haar middelnaam en die kabinet het glo dié naam gebruik, wat dit vir haar “duidelik maak dat Zuma werklik toe eers gehoor het” dat sy op die kortlys verskyn.

Outa het in die hof geargumenteer dat Myeni in 2015 in oorlegpleging met Zuma besluit het om ’n winsgewende samewerkingsooreenkoms tussen die SAL en die lugdiens Emirates te kelder.

Dit het die SAL duur te staan gekom.

Myeni het egter Donderdag aangevoer dat die SAL in ’n “onbillike” ooreenkoms ingeboelie is, en Zuma het self gesê hy is bekommerd daaroor.

“Ek was geskok toe Zuma my bel. Hoe kon hy geweet het van ’n ooreenkoms tussen die SAL en Emirates? Ek het hom nie daarvan vertel nie.”

Die ooreenkoms sou dit moontlik maak dat die twee lugdienste meer passasiers deel en dat Emirates meer vlugte vanaf Suid-Afrika sou kon bedryf.

Sy sê dit sou die SAL van geleenthede ontneem. “Hoekom moet ons ons lugruim oopmaak vir buitelandse lugdienste?” Volgens haar het dit nie “sakesin” gemaak om ooreenkomste te sluit wat die SAL se winsgewendheid sou “belemmer” nie.

Ek . . . is die sondebok gemaak vir die beweerde ‘verliese’ van miljoene rand wat die SAL glo toe sou ly. Daar was nie verliese nie.
Dudu Myeni

Outa sê egter die ooreenkoms was tot voordeel van die SAL.

Dit was veronderstel om in Junie 2015 op ’n lugskou in Parys aangekondig te word.

Die waarnemende uitvoerende hoof van die SAL in daardie stadium, Nico Bezuidenhout, het Donderdag vir Outa en Saapa getuig dat dit ’n enorme sakegeleentheid vir die SAL was.

Myeni het egter nie haar goedkeuring daarvoor gegee nie, en voer aan dat die direksie met haar saamgestem het dat dit nie in die SAL se beste belang sou wees nie.

Ander getuienis strook egter nie daarmee nie.

Myeni meen Bezuidenhout het sy mes vir haar ingehad.

“Miskien was dit omdat hy nie meer in Parys sou kon skitter (oor die ooreenkoms) nie, en toe maak hy van my die sondebok,” sê sy.

“Ek . . . is die sondebok gemaak vir die beweerde ‘verliese’ van miljoene rand wat die SAL glo toe sou ly. Daar was nie verliese nie.”

Sy het ook geargumenteer Outa se bewering dat sy tot nadeel van die SAL ingemeng het by die aankoop van ’n aantal Airbus-vliegtuie vir die lugdiens, is verkeerd. Sy het net in die beste belang van die SAL opgetree.

Outa en Saapa se regspan sê hulle is nie bekommerd oor Myeni se getuienis nie.

Steynberg sê sy was eerder verras dat Myeni vir die hofsaak opgedaag het. “Ek was daarvan oortuig dat sy ’n doktersbrief sou stuur.”

Meer oor:  Outa  |  Suid-Afrikaanse Lugdiens  |  Dudu Myeni  |  Lugdiens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.