Les Matuson van Matuson Associates-sakebestuurskonsultante in Johannesburg is as die sakereddingspraktisyn van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) aangestel – en die vakbond Solidariteit is glad nie tevrede nie omdat die proses volgens hom “oorhaastig” gedoen word.

Les Matusen Foto: Matuson Associates
Die SAL het glo Donderdag die aansoek om vrywillige sakeredding amptelik ingedien by die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom (CIPC). Die SAL het die vakbond Solidariteit Donderdagmiddag laat oor Matuson se aanstelling ingelig.
Dit kom nadat Solidariteit ná gesprekke met ander SAL-vakbonde, naamlik Numsa en die Suid-Afrikaanse Kajuitpersoneelvereniging (Sacca), vroeër die middag gesê het hulle gaan daarop aandring dat die SAL met georganiseerde arbeid konsulteer oor die aanstelling van ’n sakereddingspraktisyn.
“Ons is baie ongelukkig oor dié verwikkeling,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, aan Netwerk24.
“Hoewel ons baie bly is dat die staat besluit het om die lugdiens in sakeredding te plaas, word dit nou heeltemal oorhaastig gedoen,” sê hy.
Hermann sê ’n week gelede het die departement van openbare ondernemings nog aangedui hy gaan die vakbond se aansoek in die hooggeregshof in Johannesburg teenstaan om die lugdiens in sakeredding te laat plaas.
“Nou skielik word daar in die middel van die nag besluit om die SAL tog in sakeredding te plaas en binne ’n dag, sonder enige konsultasie, word die sakereddingspraktisyn aangestel.”
Hermann en ander kenners het sedert Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, in die vroeë oggendure Donderdag die aankondiging gemaak het, hul kommer uitgespreek oor of die staat werklik ’n onafhanklike sakeredder sal aanstel.
“Ons is regtig bekommerd oor hoeveel beheer die staat wil uitoefen oor die sakereddingsproses. As die staat hom nie hieraan onttrek nie, gaan niks met dié proses uitgerig word nie,” sê Hermann.
Hy sê Solidariteit het die SAL reeds kennis gegee dat hy Vrydag teen 09:00 ’n verduideliking wil hê oor hoekom Matuson aangewys is.
“Ons het ook reeds ’n senior advokaat gekry om ons opsies te bespreek indien ons wel besluit om regstappe te doen.”
Hermann sê as daar nie tot ’n vergelyk met die departement en die SAL gekom kan word oor die sakereddingspraktisyn nie, sal die vakbond nie skroom om hom tot die hof te wend om ’n ander een aan te stel nie.
Wie is Les Matuson?
Volgens die webwerf van Matuson Associates is Matuson ’n sakereddingspraktisyn met 35 jaar se ervaring.
Hy is n geoktrooieerde rekenmeester en ’n goedgekeurde sakereddingspraktisyn by CIPC.
Een van die onlangse sakereddings wat Matuson gehanteer het, is dié van die Ellerines-meubelgroep.
Van die winkelgroepe wat voorheen deel van Ellerines was, sluit in Beares, Dial-a-Bed, Ellerines, Furniture City, Geen & Richards en Wetherlys.
Hoewel Ellerines as groep gesneuwel het, is van die ander winkelgroepe wel gered.
LEES OOK: Lewis koop Ellerines en Beares in vier buurlande
Een van Matuson se kollegas is Piers Marsden.
Marsden is die sakereddingspraktisyn wat onder meer in 2015 aangestel is om Optimum Coal Holdings, wat die steenkoolmyn met dieselfde naam besit het, te red.
In dié geval is die myn aan die Guptas se Tegeta Exploration & Resources verkoop. Optimum is sedertdien wéér in sakeredding geplaas. Dié keer hanteer Louis Klopper van Coronado Consulting die sakeredding.
Meer onlangs is Marsden by Evraz Highveld Steel aangestel.
Dáár het hy gehelp om ’n deel van die aanleg weer in bedryf te stel.
Oorspronklik het Evraz in Junie 2017 ’n kontrak met ArcelorMittal Suid-Afrika (Amsa) gesluit om strukturele staal aan hom te lewer.
Amsa het sedertdien ’n aanbod gemaak om dié bedrywighede te koop.
LEES OOK: Highveld Steel droom van spoorlyne