Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAL: Hulle vlieg so lekker, want hulle slaap so lekker

Vlieëniers van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) kan vir eers nog lekker in vyfsterhotelle slaap nadat voorstelle dat hul diensvoorwaardes ingekort word, op die langebaan geskuif is.

SAL se vlieëniers word goed betaal vergeleke met dié van ander ontwikkelende lande, maar vergeleke met byvoorbeeld Europese lugdienste, is hul pakkette maar gemiddeld. Foto: Bloomberg

Kort voordat hy in sakeredding geplaas is, het die SAL nuwe dienskontrakte aan die Suid-Afrikaanse Lugdiensvlieëniersvereniging (Saapa) voorgelê waarvolgens vlieëniers voort­aan in driesterhotelle sou moes slaap wanneer hulle uitstedig is vir werk.

Hul salarisse sou met sowat 50% verlaag word tot ’n vlak gelykstaande aan die salarisse van hul kollegas by die laekostelugdiens Mango. Dié voorstelle is dié week oorweldigend verwerp.

Daarbenewens sou hulle tot 100 ure per maand moes werk, wat volgens notas van Saapa wat Rapport gesien het, dui op ’n toename van 47% in produktiwiteit. Boonop sou die werkgewer die reg hê om eensydig die getal werksure te verhoog tot die maksimum van 120 ure wat die Burgerlugvaartowerheid stel.

Die hele stelsel van senioriteit gegrond op ervaring is ook in die voorgestelde nuwe voorwaardes geskrap.

Volgens kapt. Grant Back, voorsitter van Saapa, het hulle nou met die sakereddingspraktisyns ooreengekom dat die bestaande dienskontrak en ooreenkomste eerbiedig word.

Back sê daar is nie nou verdere onderhandelings met die sakereddingspraktisyns oor veranderings aan vlieëniers se diensvoorwaardes nie en daarom wou hy hom nie uitlaat oor die vroeëre voorstelle nie.

Guy Leitch, redakteur van die tydskrif SA Flyer, het aan Rapport gesê SAL-vlieëniers se huidige diensvoorwaardes spruit uit ooreenkomste van sowat 20 jaar gelede toe die vlieëniers die lugdiens op strepe verlaat het weens ongunstige diensvoorwaardes.

’n Senior kaptein se totale koste van indiensneming is tussen R3,5 miljoen tot R4 miljoen.

Vlieëniers se pakkette is toe in pas gebring met dié van hul eweknieë elders ter wêreld. Hy sê oor die jare het die vlieëniers die bestuur ore aangesit in onderhandelinge om vir hulself gunstige diensvoorwaardes te beding.

Leitch sê SAL se vlieëniers word goed betaal vergeleke met dié van ander ontwikkelende lande, maar vergeleke met byvoorbeeld Europese lugdienste, is hul pakkette maar gemiddeld.

Hy sê ’n senior kaptein se totale koste van indiensneming is tussen R3,5 miljoen tot R4 miljoen.

Dit klink na baie, maar ’n mens moet in gedagte hou dat hul werk uiters verantwoordelik is en langafstandvlugte met baie ongerief, soos vlugvoosheid, gepaard gaan. Vlieëniers is ook gedurig weg van hul gesinne.

Dit kan volgens Leitch hoegenaamd nie vergelyk word met die omstandighede van die laekostelugdiens Mango se vlieëniers, wat binnelandse roetes vlieg en saans tuis kan slaap nie.

Leitch sê die lugdiens het voorkeurtariewe beding met vyfsterhotelle, wat heelwat beter is as wat die publiek vir dieselfde verblyf betaal.

SAL se sakereddingspraktisyns het nie op ’n navraag oor die kwessie gereageer nie.

Meer oor:  Saapa  |  Les Matuson  |  Lugdienste  |  Staatsondernemings  |  Sakeredding  |  Vlugte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.