Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAL is ‘geldmaak-komplot’ deur Pravin, sê Holomisa

Genl. Bantu Holomisa “ruik ’n rot” wanneer dit kom by die verkryging van ’n 51%-belang in die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) deur die konsortium Takatso.

Genl. Bantu Holomisa, leier van die UDM. Foto: Gallo Images

Holomisa, leier van die UDM, het vandeesweek sy regspan opdrag gegee om te begin met regstappe om op ’n dringende basis die verkryging onder geregtelike hersiening te plaas.

Holomisa, wat Dinsdag met Netwerk24 gepraat het, meen daar is iets groots fout met die transaksie wat al soveel lof ontvang het as die “privatisering” van die staatsonderneming.

Die transaksie is op 11 Junie aangekondig.

Die twee entiteite waaruit die konsortium bestaan, is Global Aviation, wat plaaslik die lugdiens Lift bedryf, en Harith General Partners, ’n belegger in infrastruktuur in Afrika. Saam beteken dit die konsortium is 51% in swart besit.

Die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) besit ’n groot belang in Harith. Verlede week het die OBK bevestig dat hy steeds 30% van Harith besit.

In die Mpati-verslag se aanbevelings oor wanbestuur by die OBK word ’n hele hoofstuk aan Harith gewy.

Harith is in 2007 deur die OBK opgerig in opdrag van Thabo Mbeki, die destydse president, en was gemik daarop om honderdmiljoene dollars hoofsaaklik vanaf die staatspensioenfonds (GEPF) te benut om in Afrika-infrastruktuur te belê. Die OBK bestuur die GEPF se geld.

Harith het onder die leiding van Tshepo Mahloele, nou voorsitter van Takatso, die GEPF na bewering betrek by wat die Mpati-kommissie “wettige korrupsie” noem.

“Hulle het buitensporige tariewe gevra wat die OBK en GEPF doodeenvoudig moes betaal,” sê Holomisa.

“Dit is deur en deur wat ek noem ‘wettige korrupsie’ en regter Lex Mpati het met my saamgestem.”

Wat ek vermoed Pravin doen, met die ondersteuning van sy ANC-samesweerders, is dat hierdie een groot geldmaak-speletjie gaan word.
Bantu Holomisa

Volgens die GEPF het Harith prestasiebonusse verdien uit die geld wat hy bestuur het, teenstrydig met beleid.

Die geld moes eintlik eerder in die vorm van dividende teruggevloei het na die GEPF en sy lede.

Holomisa sê ten spyte van wat die onderneming sê, is dit steeds dieselfde onderneming en verwag hy dat ongerymdhede sal voortduur.

Hy reken die plan is vir Harith om, soos aangekondig, R3,5 miljard in die lugdiens in te pomp as bedryfskapitaal.

Hy verwag egter dat die staat nog geld in die lugdiens sal moet pomp, na raming R3,5 miljard oor die volgende drie jaar, en dan sal Harith die lugdiens verkoop vir “miljarde se wins”.

Holomisa reken dis “een groot geldmaak-komplot wat met die goedkeuring van Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, gebeur”.

“Daar is geen manier waarop jy die lugdiens met slegs R3,5 miljard kan red nie.”

Vir daai “powere” bietjie geld in die vorm van ’n belegging in die lugdiens self, kry Harith ’n meerderheidsaandeel van ’n lugdiens met miljarde in bates, danksy die werk van die sakeredders en die verskeie reddingsboeie van die staat. (Die SAL se bates beloop tans tussen R1 miljard en R2 miljard, volgens die sakeredders.)

Die konsortium het geen koopprys betaal vir sy meerderheidsbelang in die SAL nie. Die aandele in die SAL is bloot verwater en nuwes uitgereik aan die konsortium om sy aandeelhouding tot 51% te verhoog.

“Wat ek vermoed Pravin doen, met die ondersteuning van sy ANC-samesweerders, is dat hierdie een groot geldmaak-speletjie gaan word.”

Die UDM se hofdokumente sal eersdaags by die hooggeregshof ingedien word. Holomisa sê sy regspan is net nog besig om te wag op inligting van die departement van openbare ondernemings.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.