Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAL kan dalk 4 j. oue plan toepas
Dudu Myeni

Die hofsaak wat die vakbond Solidariteit beoog om die regering te dwing om die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) in sakeredding te laat plaas, kan dié lugdiens dwing om ’n plan uit te voer wat eintlik al vier jaar gelede deur sy direksie oorweeg is.

Luidens ’n dokument wat ses van die SAL se 11 direksielede op 19 September 2014 geteken het, het die raad tóé al besluit om die lugdiens in sakeredding te plaas.

Rapport het ’n afskrif van dié resolusie gesien, asook ’n brief wat klaarblyklik na aanleiding daarvan aan die minister gestuur sou word. Luidens dié brief aan Lynne Brown, die vorige minister van openbare ondernemings, beveel die raad aan dat die SAL met ’n strategiese vennoot saamwerk, van wie dit ook kapitaal kan kry.

Dudu Myeni, voorsitter van die raad, se handtekening is egter nie op die brief nie. Haar handtekening is ook nie op die resolusie van die raad nie en dit is nie duidelik of die raadsbesluit aan die minister oorgedra is nie.

Intussen sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, hulle finaliseer tans die hofdokumente.

Hulle het reeds op 6 April aan pres. Cyril Ramaphosa, Nhlanhla Nene, minister van finansies, en Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, geskryf om hulle oor die beoogde hofsaak in te lig.

Solidariteit wil ’n bepaling in die Maatskappywet gebruik wat ’n “geaffekteerde persoon” die reg gee om ’n aansoek vir sakeredding te bring.

Die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) maak ook Dinsdag ’n verslag oor die stand van die SAL bekend.

Volgens Connie Mulder, hoof van die instituut, is hul bevinding onder meer dat die SAL in sakeredding geplaas moet word en ’n strategiese vennoot moet vind.

Mulder sê die rede waarom die SAL se vorige hoofde misluk het, is nie dat hulle onbekwaam was nie. “Ons het bevoegde mense gehad,” sê hy. Die rede is die “politieke toutjies” wat aan hulle gebind is. Dit veroorsaak dat hoofde nie hul planne kan uitvoer nie.

Ons moet iemand ekstern kry wat oorneem wat die strategie kan implementeer sonder politieke inmenging.

“Die nommereen-probleem is die aandeelhouer (die regering) wat nie sy werk doen nie omdat hy verliese aanspoor met reddingsboeie. Dit moedig swak sakegedrag aan,” sê hy.

“Ons moet iemand ekstern kry wat oorneem wat die strategie kan implementeer sonder politieke inmenging,” sê Mulder.

Mulder sê hul navorsing toon die langtermyn-regrukstrategie van 2013 moet gevolg word. Dit sluit in dat die SAL, soos lugdienste wêreldwyd, ’n vennootskap moet sluit met ’n groter lugdiens.

Hy sê lugdienste wêreldwyd vorm vennootskappe met die drie “super-lugdienste” Emirates, Etihad Airways en Qatar Airways. Dié drie lugdienste is in lande met ’n baie sentrale ligging ten opsigte van die res van die wêreld. “Dit is hoe Qantas hulself reggeruk het deur ’n vennootskap met Emirates,” sê hy.

Dit is soortgelyk aan die redenasie in die brief wat die minister klaarblyklik nooit bereik het nie.

“Die SAL ding mee in ’n hoogs mededingende wêreldmark en word toenemend blootgestel aan verdere vlakke van mededinging en konsentrasie van markkragte op Suid-Afrika en omliggende Afrikamarkte.” Luidens die brief is die enigste manier om die SAL se volhoubaarheid te verseker om óók so ’n vennootskap te sluit.

Die brief lui verder dat een van die SAL se groot swakpunte as alleenstaande lugdiens, naamlik die feit dat Suid-Afrika laag in die Suidelike Halfrond geleë is, kan juis aantreklik wees vir ’n vennoot wat meer sentraal geleë is.

Hermann sê sowel Nene as Gordhan het ontvangs van die brief wat Solidariteit aan hulle geskryf het, erken.

Die departement van openbare ondernemings het navrae na die tesourie verwys omdat die SAL tans onder dié departement se toesig is en nie meer onder dié van openbare ondernemings nie.

Die tesourie het teen Vrydagmiddag nie op navrae gereageer nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.