Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
‘SAL kan nié gered word’

Hoe gouer die staat die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) sluit, hoe beter.

So sê Gerhard Papenfus, uitvoerende hoof van die Nasionale Werkgewersorganisasie van Suid-Afrika (Neasa).

“Wat is daar oor om te onderhandel wanneer ’n werkgewer geen bates het nie en die bank weier om verdere krediet aan hom toe te staan?” vra hy.

Passasiers in toue by die geslote SAL-toonbanke op die O.R. Tambo-lughawe.

“As die werkgewer (soos in dié geval) bankrot is, is die onderhandelingsmag van ’n vakbond so verweer dat die laaste ding wat hy kan bekostig, is om te staak.

Papenfus sê die SAL gedra hom asof hy steeds solvent is en asof sy diens onontbeerlik is.

“Hierdie houding van onontbeerlikheid is wat die vakbonde aanspoor om onrealistiese eise te stel,” sê hy.

“Die SAL kan nie gered word nie. Elke dag wat hy in die lug bly, skep hy net ’n groter risiko vir Suid-Afrika Bpk.

“Hoe gouer die regering besluit om hom te sluit, hoe beter.”

Die vakbond Solidariteit het Vrydag gesê sy lede neem nie aan die staking deel nie en beskou dit as destruktief.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het Donderdag juis gesê die regering gaan ’n ongenaakbare houding inneem teenoor die lugdiens.

“As sommige taai besluite geneem moet word, dan sal ons hulle neem,” het Gordhan in ’n toespraak in New York gesê.

“Die SAL is nié te groot om te misluk nie.

“Hulle (die stakers) bring die toekoms van die lugdiens en almal se poste in die gedrang. Hopelik sal hulle tot hul sinne kom voordat dinge te ver gaan,” sê Gordhan.

Intussen meen die stakende vakbonde, die National Union of Metalworkers of South Africa (Numsa) en die Suid-Afrikaanse Kajuitpersoneelvereniging (Sacca­) dit is die lugdiens se skuld dat vlugte gekanselleer is en dat dit nie is omdat hulle staak nie.

Die staking volg nadat die lugdiens vroeër ’n herstruktureringsproses aangekondig het waardeur 944 werknemers hul werk sou verloor.

Die stakers het “die moeder van alle stakings” belowe in ’n poging om die sukkelende SAL te dwing om sy salarisverhoging van 5,9% tot 8% te verhoog.

Die vakbonde wil ook hê kontrakwerkers moet permanent aangestel word.

Die lugdiens, wat tegnies bankrot is, sê hy gaan nie meer as 5,9% aanbied nie. Hy waarsku ook dat daar moontlik “geen herstel” sal wees ná die staking nie.

Die stakende vakbonde het Vrydagmiddag ingestem om Saterdag met die SAL by die Kommissie vir Bemiddeling, Versoening en Arbitrasie (KBVA) te vergader in ’n poging om tot ’n vergelyk te kom.

Tlali Tlali, woordvoerder van die SAL, sê die lugdiens is optimisties dat die dooiepunt oor lone gebreek sal word.

Sonia Eitz, verteenwoordiger van Sacca, sê hoewel die grondpersoneel, tegniese dienste en kajuitbemanning nie verantwoordelik is vir die lugdiens se probleme nie, is dit hulle wat daaronder ly.

“Nie ’n enkele sent” is verhaal van diegene wat van finansiële wangedrag by die lugdiens beskuldig is nie, sê sy.

Vuyo Lufele, streeksekretaris van Numsa, sê die vakbond is bekommerd oor die moontlikheid dat die lugdiens kan sluit, maar meen dié moontlike scenario word gebruik om die werknemers uit te buit.

“Hierdie maatskappy is op die rand van ineenstorting bloot weens onbevoegdheid en wanbestuur, of ons nou staak of nie.”

Die SAL Vlieëniersvereniging (Saapa) het dit Vrydag benadruk dat sy lede nie aan die staking by die lugdiens deelneem nie, maar nogtans die stakers se eis steun dat die SAL dringend toerekenbare leierskap in sy eie geledere kortkom en dit dadelik moet regstel,” het Grant Back, voorsitter van Saapa, Vrydag aan Netwerk24 gesê­.

“Die aanstelling van ’n bekwame leierskorps by die SAL is van kardinale belang as die lugdiens ernstig daaroor is om ’n omkeerstrategie uit te voer.

“Indien ons eie onderhandelinge op ’n dooiepunt uitloop, sal ons vlieëniers in Januarie ’n staking oorweeg,” sê Back.

Die Vereniging van Staatsamptenare (PSA) steun ook die staking.

Sowat 1 000 van die sowat 3 000 stakende werkers het Vrydag vroegoggend reeds by die ingang van die lugdiens se hoofkantoor in Kempton Park met baniere en plakkate byeengekom.

Sommige passasiers uit die buiteland is onkant betrap deur die staking. ’n Oorblufte Rodrigo Izqueirdo (42) van Brasilië het aan joernaliste op die O.R. Tambo-lughawe gesê­ hy moes in minder as twee uur in Gaborone in Botswana wees.

“Ek het die leë besprekingstoonbanke by die lughawe gesien en hoop die lugdiens gee my toegang tot ’n ander vlug.”

Die SAL het Vrydag gesê opera­sionele ontwrigtings is tot die minimum beperk danksy gebeurlikheidsplanne wat vroeër vandeesweek in werking gestel is en deur noue samewerking tussen lughawens en lugdienste wat probeer om passasiers te akkommodeer wat geraak word.

Meer oor:  Or Tambo-Lughawe  |  Bemiddeling  |  Sal-Staking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.