Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAL kan nie reg ‘gestaak of gestaat’ word nie – Solidariteit
Passasiers gaan aan boord van een van die SAL se vliegtuie.Foto: Reuters

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) kan reg gestaak of reg “gestaat” word nie.

Dit is die mening van Dirk Hermann, bedryfshoof van die vakbond Solidariteit.

“Dit gaan nie help om by die SAL te staak om hom reg te kry nie, en dit gaan duidelik ook nie help om die staat toe te laat om hom aan te hou bestuur nie,” sê hy.

Dit is om dié rede dat die vakbond die hooggeregshof in Johannesburg genader het met ’n aansoek om die lugdiens dringend in sakeredding te plaas.

Die hofstukke is Donderdag op Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, Tito Mboweni, minister van finansies, en die SAL bedien.

Die vakbond sê hy hoop dat die hof sy aansoek vanjaar nog op die rol sal plaas.

Solidariteit voer aan dat sakeredding noodsaaklik is ter wille van die sekerheid van sy lede by die SAL sowel as belastingbetalers in Suid-Afrika.

“Ons is diep bewus van die krisis waarin die SAL hom bevind,” sê Hermann.

Hy het Donderdag die media in Centurion toegespreek oor presies wat die vakbond se aansoek behels.

“Die SAL is op pad na likwidasie met enorme gevolge vir werknemers, die Suid-Afrikaanse ekonomie en belastingbetalers.

Die SAL se Dag Zero is nou baie naby.
Dirk Hermann, Solidariteit

“Altesaam 11 000 werkers gaan hul werk verloor en ’n skuldlas van miljarde rande gaan deur die staatskas geabsorbeer moet word indien daar nie radikaal ingegryp word nie.

“ ’n Aansoek om die SAL in sakeredding te plaas, is die enigste opsie wat oorbly om die skade te beperk.

“Die onlangse gebeure by die SAL het die krisis versnel.

“Die SAL se Dag Zero is nou baie naby.

“Die huidige aandeelhouer het beheer oor ’n oplossing vir die SAL verloor.”

Hermann verduidelik aangesien die SAL luidens sy finansiële state van 2017 ’n verlies van R5,569 miljard gely het, beteken dit dat R15 257 534 per dag verlore gegaan het.

“Elke uur verloor ons R635 730 en elke minuut R10 595,51,” sê hy.

Hermann sê Solidariteit oorweeg dit reeds sedert 2018 om ’n aansoek te bring om die SAL in sakeredding te plaas.

Dié planne is egter laat vaar ná onderhandelinge met Vuyani Jarana, voormalige uitvoerende hoof van die SAL.

“Hy is egter nou weg en volgens Solidariteit kon die ooreenkomste wat bereik is, nie in werking gestel word nie.”

Hermann sê Solidariteit het reeds samesprekings met die direksie van die SAL, Gordhan asook met amptenare van die departement gevoer.

“Ons besef dat ’n sakereddingsaansoek ingrypend is en daarom het ons keer op keer weer gesprekke gevoer.

“Sakeredding is geen SAL-towerstaffie nie; inteendeel, dit dryf die krisis op ’n spits met geen waarborg dat daar ’n oplossing is nie.”

Proses

Hermann wys ook daarop dat sakeredding nie beteken dat die maatskappy gelikwideer word nie, maar dat dit eerder die lugdiens tydelik in die lug sal hou totdat dit geherstruktureer kan word.

Solidariteit het bevestig dat enige onderhandelinge wat oor lone gemaak is vóórdat die SAL in sakeredding geplaas is, onveranderd sal bly.

Solidariteit se aansoek sluit ’n sakereddingsplan in.

Die lugvaartkenner Guy Leitch en Nico Bezuidenhout, voormalige waarnemende uitvoerende hoofde van die lugdiens, het die vakbond bygestaan om die plan op te stel.

Van die voorstelle wat Solidariteit maak is:

  • Vennootskappe met ander lugdienste moet beter gebruik word;
  • Roetes en die vliegtuie wat op die roetes gebruik word moet geherevalueer word;
  • Die SAL moet soveel as moontlik van sy vliegtuie besit en hulle nie huur nie;
  • Alle kontrakte moet hersien word;
  • Hersien die grootte van die arbeidsmag; en
  • Die regte leierskapspan moet aangestel word.

Hermann sê die staat het nog nie aangedui of hy die aansoek gaan teenstaan of nie.

“Om die waarheid te sê, die staat behoort lank reeds self aansoek om sakeredding te gedoen het,” sê Hermann.

Hermann sê hulle het ander vakbonde genader om saam met hulle die aansoek te bring.

“Van hulle is neutraal oor ons aansoek terwyl ander daarteen is,” sê hy.

Meer oor:  Solidariteit  |  Sal  |  Suid-Afrikaanse Lugdiens  |  Dirk Hermann  |  Tito Mboweni  |  Pravin Gordhan  |  Lugdiens  |  Staking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.