Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAL kan nie waag om sy state te wys

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) durf nie sy finansiële state van die afgelope twee jaar publiseer nie omdat hy dan summier gelikwideer sal word, het Pravin Gordhan, minister van openbare werke, aan die parlement gesê.

Die sakeredders lê na verwagting hul reddingsplan vir die SAL op 6 Maart voor. Foto: Bloomberg

Op ’n gesamentlike sitting van die staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) en die portefeuljekomitee oor openbare ondernemings is die departement voor stok gekry oor die lugdiens se uitstaande finansiële state.

Dit beteken die SAL oortree die Wet op die Bestuur van Openbare Finansies (PFMA) wat bepaal ’n staatsinstelling moet sy jaarverslae bekend maak binne een maand nadat sy syfers geoudit is.

Adv. Melanchton Makobe, waarnemende adjunk-direkteur-generaal van openbare werke, het egter aangevoer daar is ’n klousule in die wetgewing wat bepaal ’n staatsinstelling se resultate mag teruggehou word as die minister grondige redes daarvoor kan gee.

Hy sê Gordhan se redes is inderdaad geldig; die SAL word nie meer as ’n lopende saak bedryf nie.

Die SAL het sedert die 1990’s kontantinspuitings van meer as R57 miljard van die regering gekry. Die lugdiens maak sedert 2011 nie meer ’n wins nie en het net in die afgelope twee jaar ’n verlies van meer as R10 miljard aangeteken.

LP’s was nie te vinde vir die departement se verduideliking nie, waarna Gordhan uitgestippel het wat presies die gevolge van ’n likwidasie sou wees.

“Dit beteken môre hou alles op werk: Vliegtuie styg nie op nie en personeel word aangesê om huis toe te gaan. Krediteure sal toustaan en probeer om hul hande te kry op die bietjie bates wat wel nog oor is.”

Bo en behalwe die kwessie van die SAL se uitstaande syfers, is die afvaardiging, wat die lugdiens se twee sakeredders, Les Matuson en Siviwe Dongwana, ingesluit het, gepeper met vrae oor die verloop van die sakereddingsproses en die lugdiens se geldsake.

Gordhan het gesê die sakeredders kan geen antwoorde gee terwyl die reddingsplan nog nie vir goedkeuring voorgelê is nie, wat na verwagting op 6 Maart gebeur.

Gordhan het beken die regering bevind hom op ongebaande weë vandat die SAL op 6 Desember 2019 in sakeredding geplaas is. “Sover ek weet, is die SAL die eerste staatsinstelling in sakeredding.”

kkk

’n Onderneming in sakeredding is onderhewig aan die Maatskappywet wat buitengewone magte aan die sakeredders toeken. In so ’n geval is die sakeredders amptenare van die hof en slegs aan die hof aanspreeklik. Omdat die SAL ’n staatsinstelling is, geld die wet oor openbare finansies benewens die Maatskappywet. Boonop geniet dié wet voorrang, wat beteken die toesighoudende minister (Gordhan in dié geval) is steeds die uitvoerende gesag.

Makobe se uitlatings kom te midde van vrae oor hoeveel die regering by die sakereddingsproses mag inmeng. Ace Magashule, ANC-sekretaris-generaal, het gesê die alliansievennote het die finale sê oor die lugdiens, en die regering sal intree indien nodig. Pres. Cyril Rama­phosa het hom ook uitgespreek teen die sakeredders se besluit om sekere vlugroetes te skrap.

Jacques Jonker van die Vryemarkstigting het gesê al hoef die aandeelhouers (die regering) nie stil te bly tydens die reddingsproses nie, beteken dit nie dat die sakeredders aan die regering verslagdoen nie.

¦ Danie Terblanche, sakeredder van South African Express (SAX), het die afgelope week aan krediteure gesê dié staatslugdiens se skuld beloop R2,7 miljard en groei daagliks, berig Sipho Masondo. Dit sluit R220 miljoen aan Transnet en meer as R140 miljoen aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens in.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.