Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAL kan werkers in Januarie betaal

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) sal wel sy werknemers se Januarie-salarisse kan betaal, het die sakeredders aan Fin24 bevestig.

Die skrap van vlugte dié week het gehelp dat die SAL sy werknemers kan betaal.

Tot Donderdag toe het Louis Brugman, skakelbeampte van die sakeredders, nog aan Netwerk24 gesê hulle weet nie of die geld beskikbaar sal wees nie.

Brugman het nou bevestig dat geld wel vir salarisse opsy gesit is.

Werknemers is per e-pos ingelig dat hul salarisse inbetaal sal word op die “normale geskeduleerde dag”.

“Die sakeredders en bestuur het verskeie stappe gedoen om te verseker dat kontant bewaar word. Daarom het ons genoeg geld om salarisse te betaal,” het Brugman aan Fin24 gesê.

Die lugdiens het die afgelope week tientalle vlugte geskrap as deel van sy poging om kontantvloei te verbeter. Dit het vlugte tussen Johannesburg en Kaapstad, Johannesburg en Durban, en ook tussen Johannesburg en München, Duitsland, ingesluit.

Anton van der Bijl, hoof van die vakbond Solidariteit se regsafdeling, het aan Fin24 gesê die vakbond is verlig dat werknemers betaal sal word.

Daar is egter steeds geen nuus oor die R2 miljard wat die staat aan die beleërde lugdiens belowe het nie.

Mboweni het Vrydag op ’n nuuskonferensie op die Wêreld- Ekonomiese Forum in Davos, Switserland, geweier om vrae te beantwoord oor wanneer die R2 miljard betaal sou word.

Die lugdiens se krediteure het reeds ’n bykomende R2 miljard aan hom geleen, gewaarborg deur die staat.

Die SAL is op 5 Desember in sakeredding geplaas. Die sakereddingsplan moet teen einde Februarie aan krediteure voorgelê word.

Vakbonde vrees dat die SAL gelikwideer sal moet word indien die sakereddingsplan nie in werking gestel word nie.

Die metaalwerkersvakbond Numsa en die Suid-Afrikaanse Kajuitpersoneelvereniging (Sacca) het Dinsdag hul eie sakereddingsplan voorgestel wat insluit dat die SAL gesamentlike ondernemings vir sy oorsese vlugte moet aangaan.

Numsa en Sacca stel ook voor dat SAL Tegnies, die filiaal van die SAL wat instandhouding doen, ’n gesamentlike vennootskap met Lufthansa Technik, tans ’n mededinger, begin. Hulle is gekant teen die voorstel dat SAL Tegnies verkoop word.

“Dis ’n plan wat oplossings vind vir die meeste kostedrywers wat die lugdiens tans wurg. Die belangrikste is egter dat dit, as dit behoorlik in werking gestel word, die SAL een van die leidende lugdienste op die vasteland kan maak. Dis noodsaaklik, nie net om die plaaslike toerismebedryf te bou nie. Dit kan ook die ekonomie ’n groot hupstoot gee.

“Dit sal Suid-Afrika ook in staat stel om betekenisvol tot intra-Afrika-handel en -reis by te dra.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.