SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAL kanselleer alle vlugte vir Vrydag en Saterdag

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) het alle binne- en buitelandse vlugte gekanselleer wat vir Vrydag en Saterdag geskeduleer was.

Dit sluit ook streeksvlugte in.

Die SAL het dié aankondiging Woensdagaand kort voor middernag op Twitter gemaak.

Dit volg nadat die SAL kennisgewing van twee vakbonde, die National Union of Metalworkers (Numsa) en die Suid-Afrikaanse Kajuitpersoneelvereniging, gekry het wat hulle die reg gee om binne 48 uur te begin staak.

Die SAL het Dinsdag bevestig hy het met 'n herstruktureringsproses begin en art. 189-kennisgewings luidens die Wet op Arbeidsverhoudinge aan sy personeel gegee.

Deon Fredericks, waarnemende finansiële hoof, het Dinsdag in Kempton Park gesê die afleggings is nodig om finansiële stabiliteit te verseker.

Fredericks sê die SAL het Maandag ’n aansoek by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie ingedien om ’n senior kommissaris aan te stel om as fasiliteerder op te tree.

Fredericks sê die SAL se herstruktureringsproses kan 994 mense raak, maar dit kan die SAL R700 miljoen bespaar.

Thandeka Mgoduso, waarnemende voorsitter van die SAL, het Woensdag die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) gewaarsku oor dié verwagte staking.

Die vakbonde eis verhogings van 7,5% tot 8%, terwyl die SAL geen verhogings kan bekostig nie, het sy verduidelik.

Die SAL het Dinsdag reeds gewaarsku dat ’n volskaalse staking by dié lugdiens daartoe kan lei dat al sy operasionele bedrywighede tot stilstand knars.

Fin24 berig die SAL het laat Woensdagmiddag gewaarsku 'n grootskaalse staking kan die toekoms van die lugdiens in gevaar stel.

Die SAL sê alle vlugte wat met vennootskappe, insluitend SA Express, Mango, SA Airlink en alle ander vennote bedryf word, sal nie beïnvloed word nie.

Passasiers word aangeraai om eers die SAL se inbelsentrum op 0861 359 722 óf hul reisagentskap te kontak om hul vlug te skuif vóór hulle na die lughawe gaan.

Fin24 berig verder dat alle passasiers wat deur die staking beïnvloed word toegelaat sal word om hul vlug sonder enige addisionele koste te herskeduleer. Herskedulering is onderhewig aan beskikbaarheid en moet in dieselfde klas bespreek word as wat die oorspronklike bespreking was. Passasiers moet vlugte voor 30 November herskeduleer. Die nuwe bespreking moet vir vlugte wees wat voor 31 Oktober 2020 vertrek.

Indien die passasier verkies om nié meer te vlieg nie, kan die vlug gekanselleer word. Die passasier sal ten volle terugbetaal word (belasting ingesluit).


Mango sê vroeg Donderdagoggend in 'n verklaring dat hy passasiers wil verseker dat hulle vlugte nie geraak word nie.

"Ons sal steeds vlieg, en sal soos baie lugdienste in Suid-Afrika saam met die SAL werk om passasiers te akkommoddeer wat weens die staking gestrand is."

Mango sê hy hou gebeure fyn dop en sal seker maak sy passasiers bereik hul bestemmings. 

"Ons het gebeurlikheidsplanne in plek en is gereed om dit te aktiveer indien ons gedurende hierdie tyd enige onderbrekings in ons diens ervaar."

Hy raai egter sy passasiers aan om die status van hul vlugte dop te hou, hetsy op sy sosiale media platforms of deur sy inbelsentrum op 086 100 1234 te kontak.

Meer oor:  Sal  |  Suid-Afrikaanse Lugdiens  |  Thandeka Mgoduso  |  Deon Fredericks  |  Lugdiens  |  Vlugte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.