Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAL: Krediteure bereid om vir staat te wag

Krediteure van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) is bereid om die staat nog ’n paar dae kans te gee om aan al die voorwaardes vir die sakeredding van die lugdiens te voldoen.

Die sakeredders wag nog vir ’n brief van die staat voordat die reddingsplan van die SAL tot uitvoering gebring kan word. Foto: Twitter

95% van krediteure het Vrydagoggend ten gunste van die aanpassing van die reddingsplan gestem. Dit gee die staat tot Maandag kans om aan die laaste voorwaarde vir die inwerkingstelling van die reddingsplan te voldoen.

Luidens die plan wat Les Matuson en Siviwe Dongwane opgestel het, en wat krediteure van die lugdiens op 14 Julie aanvaar het, was een van die voorwaardes dat die regering in ’n brief moet onderneem om waarborge te vestig vir geld wat verlede jaar deur die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika en Suid-Afrikaanse banke aan die SAL geleen is om hom aan die gang te hou.

Nedbank, Investec, FirstRand, Absa en Standard Bank het in Desember saam R2 miljard aan die lugdiens geleen en die Ontwikkelingsbank R3,5 miljard.

Die sakeredders sê in ’n brief wat Donderdagaand net ná 18:00 op hul webtuiste gepubliseer is dat hulle nog nie dié brief ontvang het nie.

Hulle wys daarop dat daar wel aan al die ander voorwaardes voldoen is.

Die vyf voorwaardes waaraan voldoen is, is as volg:

  • Die krediteure het die reddingsplan aanvaar.
  • Die tesourie en departement van openbare ondernemings het onderneem om transaksies goed te keur wat nodig is vir die inwerkingstelling van die reddingsplan ingevolge art. 54.2 van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur (PFMA).
  • Die departement van openbare ondernemings het onderneem om transaksies goed te keur wat nodig is vir die implementering van die reddingsplan ingevolge die SAL se akte van oprigting.
  • ’n Ooreenkoms is bereik oor skeidingspakkette met werknemers en vakbonde wat hulle verteenwoordig.
  • ’n Brief van die tesourie en die departement van openbare ondernemings is ontvang wat die staat se “steun en toewyding bevestig tot die verskaffing van die nodige finansiering vir die verskillende verbintenisse soos uiteengesit in paragraaf 28 van die reddingsplan”. Dié paragraaf verwys na ’n aanvanklike R2,8 miljard se bedryfskapitaal wat nodig gaan wees om die lugdiens weer aan die gang te kry.

Die sakeredders sê hulle verwag dat die staat binnekort wel aan die laaste uitstaande voorwaarde – die een oor die lenings – gaan voldoen.

Dit kom nadat daar glo op 22 Julie tot laataand gesprekke was tussen die banke en die staat oor die brief.

Die sakeredders sê daar is wel op ’n brief ooreengekom, maar dat hulle nog nie ’n getekende brief ontvang het nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.