Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
R1,5 mjd vir SAL: Sakeredders ‘kan dit nie gebruik’
Die SAL het uiteindelik R1,5 miljard van die staat ontvang, maar die sakeredders sê hulle kan dit nie gebruik nie. Foto: Bloomberg

Die departement van openbare ondernemings het Maandag R1,5 miljard aan die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) betaal, maar sy sakeredders sê hulle kan nie dié geld gebruik nie.

Louise Brugman, woordvoerder van die sakeredders, het by navraag aan Netwerk24 die betaling bevestig en gesê volgens Les Matuson en Siviwe Dongwana, die sakeredders, is “die voorwaardes wat daaraan gekoppel is, strydig met die Wet op Arbeidsverhoudinge en art. 6 van die Maatskappywet”.

Matuson en Dongwana sê hulle sal nie die geld kan gebruik alvorens die departement die voorwaardes verander nie. Hulle gee egter geen besonderhede oor wat dié voorwaardes behels en hoekom dit strydig met die betrokke wette is nie.

Dit is Saterdag ’n jaar sedert die SAL vrywillig in sakeredding geplaas is. In dié tyd kon die lugdiens maande lank nie vlieg nie, óf weens geldnood óf weens die koronaviruspandemie wat vroeër vanjaar tot ’n grootskaalse verbod op internasionale reis gelei het.

Niks van die geld wat die staat beloof het, is in dié tyd aan die lugdiens betaal nie.

LEES OOK: SAL-redding: Waar staan sake jaar later?

Alf Lees, DA-LP, het Vrydag in ’n verklaring teen die departement en Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, oor dié betaling uitgevaar.

“Dit lyk of Gordhan eie reg gebruik deur die betaling van R1,5 miljard goed te keur voordat die reddingsboei van R10,5 miljard aan die SAL deur die parlement goedgekeur is,” sê hy.

Lees sê dit lyk asof leners en banke vir eens die regte ding gedoen het deur te weier om nóg geld aan die SAL te leen.

“Gevolglik het Gordhan die minister van finansies, Tito Mboweni, uit desperaatheid gedwing om regsadvies in te win dat ’n bedrag van R3 miljard van die R10,5 miljard ‘wettig’ aan die SAL betaal kan word voordat die R10,5 miljard deur die parlement bewillig is,” skryf Lees.

“Die soewereiniteit van die parlement om die toewysing van geld te bepaal, kan nie eenvoudig geïgnoreer word deurdat geld op grond van die grille en giere van ’n ANC-minister bestee word nie.

“Die oomblik as dit aan die SAL betaal is, is daar geen twyfel dat dit onmoontlik sal wees om dit van die bankrot lugdiens te verhaal nie, selfs al doen die parlement die regte ding en staak hierdie immorele reddingsaksie.”

Die nuus oor die R1,5 miljard-betaling kom kort nadat Bloomberg Donderdag berig het dat die departement probeer om $400 miljoen in te samel deur ’n belang in die SAL te verkoop.

Teen die huidige wisselkoers beloop dit net meer as R6 miljard, oftewel net meer as die helfte van die geld wat die staat nodig het om die SAL weer in bedryf te stel.

Mense met kennis van die saak, maar wat verkies om anoniem te bly, sê die regering hoop om beleggers te lok op grond daarvan dat die SAL die regte op winsgewende roetes en landingsregte by lughawens soos Heathrow in Londen besit.

Aangesien die SAL al maande geen inkomste verdien nie, en met die hulppakket van R10,5 miljard nog uitstaande, het SAL-werknemers nog nie enige salarisse of skeidingspakkette ontvang nie.

Die sakeredders het R2,2 miljard vir skeidingspakkette begroot.

Fin24 berig dat van die SAL se werknemers besluit het om strafregtelike klagte teen die huidige en voormalige direksielede van die lugdiens en SAL Tegnies in te dien. Dit is Woensdag by die polisiekantoor in Kempton Park aan die Oos-Rand ingedien.

Die vakbond Numsa en die Suid-Afrikaanse Kajuitpersoneelvereniging (Sacca), wat die klagte aanhangig gemaak het, sê die direksielede het hul fidusiêre plig versuim deur korrupsie en misdaad by die lugdiens toe te laat.

Die departement van openbare ondernemings het Vrydag in ’n verklaring gesê hy neem kennis van die werknemers se frustrasies omdat hulle maande lank nie betaal is nie. Hy vra dat hulle “geduldig moet wees terwyl amptenare saam met belanghebbendes werk om ’n oplossing te vind”.

Die tesourie het Netwerk24 se navrae oor die R1,5 miljard na die departement van openbare ondernemings verwys.

Dié departement het nog nie op die versoek om kommentaar gereageer nie.

Meer oor:  Da  |  Suid-Afrikaanse Lugdiens  |  Alf Lees  |  Les Matuson  |  Covid-19  |  Inperking  |  Vlugte  |  Staat Van Inperking  |  Lugdienste  |  Koronavirus  |  Staatsondernemings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.