Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAL kry sy miljarde
SAL het verlede week begin vlugte kanselleer, maar sy sakeredders sê mense kan nou met 'n geruste hart weer kaartjies koop. Foto: Bloomberg

Die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika (Obsa) het ingestem om R3,5 miljard te verskaf om die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) met sy sakeredding te help.

Die lugdiens, wat in sakeredding is, sal onmiddellik R2 miljard van dié geld kry.

Les Matuson en Siviwe Dongwana, gesamentlike sakereddingspraktisyns van die lugdiens, het Dinsdag in ’n verklaring gesê belanghebbers by die SAL behoort nou gemaklik daarmee te wees dat die reddingspoging op aansienlik stewiger grond is en dat reisigers nou weer met vertroue SAL-kaartjies kan koop.

Dit kom ná ’n week of wat van spanning waarin die regering nie vorendag gekom het met sy beloofde R2 miljard wat hy aan die SAL sou gee as deel van die ooreenkoms op 5 Desember om die sukkelende lugdiens in sakeredding te plaas nie. Private handelsbanke het reeds R2 miljard se finansiering aan die SAL verskaf as deel van die ooreenkoms.

Die regering se R2 miljard moes teen 19 Januarie al ontvang gewees het, volgens die sakereddingspraktisyns, en in die week daarna moes die SAL 19 vlugte kanselleer, insluitende twee internasionale vlugte na München, Duitsland.

Volgens die sakereddingspraktisyns is die finansiering van Obsa bedoel vir korttermyn kontantvloei-vereistes om die lugdiens aan die gang te hou totdat die sakereddingsplan gepubliseer en aanvaar word.

Navrae oor wanneer die plan gepubliseer sal word, is nog nie beantwoord nie.

Fin24 berig dat die plan moontlik volgende maand gefinaliseer sal word.

Dit is ook nie duidelik hoekom die bedrag van R2 miljard nou skielik tot R3,5 miljard aangegroei en of dit ’n lening is wat die regering of die SAL later aan Obsa gaan terugbetaal nie.

Die herstrukturering van die SAL sal ’n geleentheid bied om ’n volhoubare lugdiens met ’n strategiese aandelevennoot te ontwikkel, en wat waar moontlik werkgeleenthede sal beskerm.

Volgens die sakereddingspraktisyns is die finansiering wat van Obsa verkry is, egter bedoel om vertroue aan passasiers, reisagente en lugdiensvennote van die SAL te gee dat hulle kan voortgaan om vliegkaartjies by die SAL te koop.

Hulle sê ook finansiering vir die herstruktureringsfase nadat die plan aanvaar is, word reeds deur moontlike finansiers oorweeg.

“Die herstrukturering van die SAL sal ’n geleentheid bied om ’n volhoubare lugdiens met ’n strategiese aandelevennoot te ontwikkel, en wat waar moontlik werkgeleenthede sal beskerm.

“Die SAL is ’n strategiese bate wat geposisioneer moet word om markte binne Suid-Afrika en die res van Afrika te verbind, asook om uitgesoekte internasionale roetes te bedien,” lui die sakereddingspraktisyns se verklaring.

Die sakeredders is in hul onderhandelings vir die geld bygestaan deur die nasionale tesourie en die departement van openbare ondernemings.

Ná die onlangse bespiegeling dat die lugdiens op die punt staan om te vou, het dié departement op 19 Januarie ’n verklaring uitgereik waarin hy die publiek die versekering gegee het van sy voorneme om die lugdiens te red.

DA soek volle besonderhede

Alf Lees, ’n lid van die DA se staande komitee oor openbare rekeninge in die nasionale vergadering, sê sy party gaan aan Ibrahim Patel, minister van handel en nywerheid, skryf om volle besonderhede van die geld te kry wat Obsa aan die SAL verskaf.

“Hierdie is bloot ’n reddingsboei vir die bankrot SAL en dit neem geld wat deur Obsa belê moes word in werklike en volhoubare projekte wat werk moet skep vir 10 miljoen werklose en grootliks brandarm mense in Suid-Afrika en gooi dit in swart gat wat die SAL is,” sê Lees.

Meer vrae as antwoorde

Dawie Roodt, hoofekonoom van Efficient-groep, sê daar is meer vrae as antwoorde oor die lening.

Dawie Roodt Foto: Argief

“Vanuit ’n ekonomiese oogpunt is ons vandag presies waar ons was voor die sakeredding en het niks verander nie. Voor die sakeredding, was dit ’n situasie dat as die SAL in die moeilikheid is, dan kry hulle net eenvoudig geld van die belastingbetalers.

“Uit ’n ekonomiese oogpunt het niks verander nie, want hulle het nou geld gekry van Obsa en dié behoort aan die staat. Die lening word in elk geval gewaarborg deur die staat,” sê Roodt.

“Hulle kon net sowel in plaas daarvan om SAL in sakeredding te sit, net eenvoudig nóg ’n waarborg gegee het om nog geld te leen vir die lugdiens. Die eintlike kwessies is dat die ontwikkelingsbank soos die naam voorstel ’n ontwikkelingsbank is en die vraag is nou wat is so ontwikkelend deur geld te leen vir die SAL? Is dit deel van hul mandaat, mag hulle dit doen?

“Ek dink nie hulle mag dit doen nie,” sê Roodt.

Hy twyfel ook of die staat die geld mag waarborg.

“Dit is die regsvrae wat dringend hier gevra moet word.” – Warda Meyer

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.