Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAL: Lening hou dalk net 8 maande

Die lening van R3,5 miljard wat die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) pas van die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika (Obsa) bekom het, is genoeg om hom nagenoeg agt maande in bedryf te hou.

Die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika het R3,5 miljard aan die Suid-Afrikaanse Lugdiens geleen.

Die lugvaartkenner Joachim Vermooten het aan Bloomberg gesê die lugdiens se verlies was tot dusver sowat R500 miljoen per maand. Dit kan egter styg indien die lugdiens aanhou om vlugte te skrap en kaartjiepryse moet verlaag om kliënte te lok.

Al hoe meer mense is lugtig om SAL-kaartjies te koop, juis uit vrees dat vlugte gekanselleer kan word, soos onlangs gedoen is.

Die SAL is op 5 Desember in sakeredding geplaas. ’n Lening van R2 miljard van banke, gewaarborg deur die staat, en ’n reddingsboei van nog R2 miljard regstreeks van die staat is toe belowe. Die Obsa-lening is nou in die plek van die staat se reddingsboei bekom, maar Obsa is self ’n staatsinstelling.

Die geld word boonop ook deur ’n staatswaarborg gerugsteun.

’n Staatswaarborg beteken as die SAL nie sy skuld kan delg nie, móét die staat dit self doen.

LEES OOK: Kritiek én lof vir Obsa se reddingsboei aan SAL

’n Oplossing op langer termyn wat nou al jare lank gereeld geopper word, is om ’n inspuiting van kapitaal deur ’n nuwe aandeelhouer te bekom. Dit kon tot dusver nog nie bewerkstellig word nie en Vermooten sê: “Ek dink nie dit sal moontlik wees om ’n ekwiteitsvennoot in die SAL te kry totdat die lugdiens ’n ommekeer en ’n vlak van winsgewendheid kan wys om ’n billike opbrengs moontlik te maak nie. Ek voorsien nie dat dit gou gaan gebeur nie.”

In die verlede is lugdienste van die Midde-Ooste soos Emirates geopper as ’n moontlike ekwiteitsvennoot, maar Bloomberg berig die mees onlangse belangstelling was van Ethiopian Airlines. Dié lugdiens het in Oktober 2019 gesê hy sou belang stel in ’n ooreenkoms met die SAL ten einde lugdienste van Afrika teen mededinging uit die Midde-Ooste te beskerm.

Die vakbonde Numsa en die Suid-Afrikaanse Kajuitpersoneelvereniging (Sacca) het onlangs in hul eie voorstel vir die SAL se sakeredding gesê die SAL moet gesamentlike ondernemings vir sy oorsese vlugte sluit. Buitelandse vlugte verteenwoordig 45% van die SAL se inkomste, maar weens die koste dra dit 65% van sy verliese by. Die vakbonde stel voor dat die SAL vennootskappe aangaan met lugdienste soos Qatar, Turkish Airlines, Emirates en Ethiopian Airlines, wat beter geleë is en die voordeel van skaalekonomie het.

Intussen het kapt. Grant Back, voorsitter van die Vereniging vir SAL-vlieëniers (Saapa), het Woensdag in ’n verklaring die ingryping verwelkom.

“Ons hoop dat dié noodsaaklike finansiële inspuiting die gewenste beleggingsopbrengs sal oplewer en ons lojale passasiers gerus sal stel om weer SAL-kaartjies te koop.”

Saapa wil egter hê die hele SAL-bestuurspan moet vervang word.

“Tot dusver het die regering daarin misluk om die bestuur verantwoordbaar te hou vir die dalende spiraal van die lugdiens, en dit kan nie voortgaan nie. Bestuur neem steeds swak besluite met ernstige gevolge vir die lugdiens.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.