Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAL-lening: R3,5 mjd. hou nou net tot Maart
Passasiers gaan aan boord een van die SAL se vliegtuie. Foto: Reuters

Die R3,5 miljard-lening wat die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika (Obsa) aan die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) toegestaan het, sal die lugdiens net tot einde Maart aan die gang hou, sê die DA.

In ’n verklaring wat die DA Maandag uitgereik het, sê hy die yslike lening wat in plaas van ’n verdere reddingsboei van die staat toegeken is, is nie genoeg om die lugdiens tot September as lopende saak te verseker nie.

“Dit laat die regering met slegs twee opsies – of hy moet die platsak staatsonderneming laat vou, of hy sal weer eens belastingbetalers se geld in die beleërde lugdiens moet inpomp,” sê Alf Lees, DA-LP.

Die lugvaartkenner Joachim Vermooten het in Januarie aan Bloomberg gesê die lugdiens se verlies was tot dusver sowat R500 miljoen per maand.

Indien dié syfer stabiel gebly het, sou die lening van Obsa nagenoeg agt maande lank die likiditeit van die SAL kon verseker. Dit sou lank genoeg wees vir Les Matuson en Siviwe Dlongwana, die sakeredders, om die lugdiens te herstruktureer en op die koers na winsgewendheid te kry.

Die Sunday Times berig dat die sakeredders nog nagenoeg R8 miljard benodig om die sakereddingsplan van die SAL in werking te stel.

Selfs al waarborg die staat die lenings, kon die sakereddingspraktisyns nog nie ’n plaaslike bank oortuig om die R8 miljard te leen nie.

Die verlies wat die SAL ly, kan ook vergroot omdat al hoe meer mense lugtig is om SAL-kaartjies te koop aangesien vlugte gekanselleer kan word.

Verlede week het Matuson en Dlongwana aangekondig dat 11 onwinsgewende roetes van die SAL geskrap gaan word vanaf die einde Februarie en talle vlugte is ook in Februarie gekanselleer weens die lae vraag na kaartjies.

Die lening van Obsa is dus nou te min om ’n stokkie voor die groeiende verlies te sit.

In middel Maart, reken die DA, sal die SAL se geld heeltemal op wees.

LEES OOK: SAL: Gwede kies sakeredders se kant

“Die feit dat die lening van R3,5 miljard binne sowat ’n maand op sal wees, beteken dat die lugdiens ondanks die beste pogings van die SAL se sakereddingspraktisyns insolvent is en gesluit moet word.”

Gwede Mantashe, voorsitter van die ANC en minister van minerale bronne en energie, het senior partyleiers

weerspreek Saterdag deur saam te stem dat indien die SAL nie winsgewend is nie, hy verkoop moet word.

Ander partyleiers is egter vasbeslote om die SAL se herstrukturering te beperk en het gal gebraak oor die sakeredders se besluit om roetes en poste te verminder.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.