Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAL maak finale aanbod aan Saapa

In ’n finale aanbod aan die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se Vlieëniersvereniging (Saapa) probeer die sakeredders vandeesweek keer dat die sakereddingsproses verder “vertraag word” deur die eise van die vakbond, maar die tyd raak min om ’n ooreenkoms te bereik.

Airways Park, die Suid-Afrikaanse Lugdiens se hoofkantoor in Johannesburg. Foto: Gallo Images

Siviwe Dongwana en Les Matuson, sakeredders van die SAL, het grotendeels ingestem tot die talle eise van Saapa in ’n finale aanbod wat Woensdag aan die vlieëniers gemaak is.

Netwerk24 het die aanbod gesien.

Een van die grootste dispute was of die vlieëniers, wanneer hulle afgedank gaan word, ’n skeidingspakket sou ontvang gegrond op hul indiensneming voor die sakereddingsproses of ná die proses.

Vlieëniers sal onder die nuwe diensvoorwaardes en reguleringsooreenkoms van die herstruktureerde lugdiens heelwat minder vergoed word (tot 50%) soos die lugdiens hom “meer doeltreffend” probeer maak, volgens die sakeredders.

Maar nou het die sakeredders erken vlieëniers sal volgens die ou koste van indiensneming vergoed word in hul skeidingspakkette.

Die enigste voorwaarde is dat die verskil tussen die nuwe en die ou pakkette “oor ’n tydperk van drie jaar” betaal sal word.

Die ou pakket is aansienlik groter as die nuwe een.

Kapt. Grant Back, voorsitter van Saapa, het vroeër vandeesweek aan Netwerk24 gesê dat die SAL “elkeen” van die vlieëniers meer as R1 miljoen skuld vir die afgelope net minder as ’n jaar wat hulle nie werk nie.

Volgens die sakeredders sal die verskil tussen die pakkette die SAL dus oor ’n tydperk van drie jaar R129 miljoen kos.

Maar daar is ook ’n tweede aspek tot dié deel van die voorstel.

Die sakeredders bied ook ’n ex gratia-betaling “vir die doeleindes van die kansellasie van die reguleringsooreenkoms” as deel van die herstrukturering aan, maar hierdie betaling (sowat R85 miljoen) sal ook oor ’n tydperk van drie jaar eers betaal word.

Die nuwe reguleringsooreenkoms en diensvoorwaardes van die 88 vlieëniers wat die SAL beplan om aan te stel sal werknemers benadeel, sê Saapa.

Die sakeredders verklaar dat hierdie twee aspekte van die voorstel, wat R214 miljoen beloop, “nie meer beskikbaar sal wees sodra die sakereddingsproses beëindig word nie”.

En die sakereddingsproses is byna afgehandel.

Die sakeredders het vroeër gesê hulle sou teen einde Maart uittree, maar in Woensdag se aanbod erken hulle dat onderhandelinge met krediteure nou ook bygedra het tot die vertraging van die proses.

Hulle is egter vol vertroue dat dit “binnekort” opgelos sal word, en hulle dus kan uittree.

’n Nuwe direksie sal dan die leisels oorneem by die sakeredders.

Saapa dra blaam

Volgens die sakeredders het Saapa ook die proses vertraag deur gereeld hul eise te verander.

Maar nou reken hulle dat die onderhandelinge tot ’n punt kom met hierdie laaste aanbod.

Saapa het onder meer geëis dat die vlieëniers “onmiddellik” hulle agterstallige 13de tjeks ontvang, asook hul salaris vir Desember 2020.

Saapa wil hê hulle moet betaal word voor die ondertekening van die ooreenkoms.

Die sakeredders hou egter vol dat hierdie betalings eers gemaak sal word sodra die vakbond namens alle vlieëniers die ooreenkoms aanvaar sodat die proses afgehandel kan word.

Die sakeredders betwis nie dat die vlieëniers ingevolge hul vorige reguleringsooreenkoms 13de tjeks vir 2019 en 2020 verskuldig is nie.

Maar Saapa wil hê dat hulle lede nie later as 15 April amptelik afgedank word nie.

Hulle wil egter hê dit moet op hulle voorwaardes gedoen word.

Saapa se lede staak sedert begin April om te verhoed dat die sakeredders net sekere vlieëniers toelaat om nie meer uitgesluit te word nie, sodat die lugdiens beperkte opleiding en vlugte kan onderneem.

Die sakeredders sê hulle sal eers die uitsluiting ophef as die ooreenkoms onderteken word.

Saapa wil hê dat alle vlieëniers op die datum van hul afdanking hul skeidingspakkette moet ontvang.

Die sakeredders sê hulle sal eers vergoed word sodra die uitsluiting beëindig word en die ooreenkoms gesluit is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.