Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAL ‘mag nie diskrimineer teen wit werkers’
’n Airbus A320-200 van die SAL styg op vanaf die O.R. Tambo-lughawe. Foto: Getty Images

Die vakbond Solidariteit sal niks minder as die algehele verwydering van ras as ’n kriterium waarvolgens afleggings by die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) gedoen gaan word, aanvaar nie.

Anton van der Bijl, regshoof van Solidariteit, het Vrydag bevestig dat die sakereddingspraktisyns van die SAL wel die vakbond se sperdatum vir ’n reaksie op hul skrywe Donderdag eerbiedig het.

Hy verduidelik aan Netwerk24 dat die sakeredders “kennis geneem het” van Solidariteit se griewe.

Dié griewe wentel om die sakeredders se oënskynlike besluit om vir die beplande aflegging van sowat die helfte van die SAL se werksmag ras in te span as die bepalende faktor van of iemand hul werk sal behou of nie.

Die sakeredders sê in hul afleggingskennisgewing van Maandag dat hulle “historiese wanbalanse” kan regstel deur meer wit mense af te dank tydens die herstrukturering.

Van der Bijl sê die sakeredders het nou bloot aangedui dat Solidariteit se griewe op die agenda sal wees vir gesprekke wanneer die amptelike artikel 189-afleggingskonsultasies op 20 Maart begin.

“Ons gee hulle kans om aan ons te verduidelik wat aangaan,” sê Van der Bijl oor of daar enige stappe voor 20 Maart deur Solidariteit gedoen sal word.

Gevra of daar enige onderhandelinge sal wees, soos die sakeredders verwag, draai Van der Bijl nie doekies om nie. “Ons gee hulle kans om die ras-kriterium te verwyder.”

Volgens hom is dit geensins aanvaarbaar nie.

Indien dié kriterium nie verwyder sou word nie, sal Solidariteit ’n dringende hofaansoek aangaande diskriminasie teen die sakeredders bring.

“Dis uit en uit diskriminasie teen wit mense,” sê hy.

Volgens Van der Bijl sal Solidariteit dit doodeenvoudig nie toelaat nie.

“Ons sal hulle in die hof sien.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.