Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAL: Meer as 3000 doen aansoek om pakkette
Meer as 3 000 van die Suid-Afrikaanse Lugdiens se werknemers het aansoek gedoen om vrywillige skeidingspakkette. Foto: Twitter

Altesame 3 110 van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se 4 661 werknemers het aansoek gedoen om vrywillige skeidingspakkette.

’n Betroubare bron het dié syfer aan Netwerk24 bevestig.

Daar is egter geen besonderhede beskikbaar oor hoeveel van die werknemers vlieëniers, kajuitpersoneel of ander werknemers is nie.

Louise Brugman, woordvoerder van Les Matuson en Siviwe Dongwana, die SAL se sakeredders, wou nie die getal bevestig nie.

Sy het wel bevestig dat die aansoekproses op Donderdag 6 Augustus gesluit het.

Die departement van openbare ondernemings het op 25 Junie aangekondig dat “finale” vrywillige skeidingspakkette aan werknemers van die lugdiens aangebied is.

Die pakkette bestaan uit die minimum wat die wet voorskryf – naamlik een week se vergoeding vir elke jaar gewerk – maar sal bereken word op grond van salarisse met ’n 5,9%-verhoging wat terugwerkend bereken sal word. Die verhoging is in November verlede jaar beding, maar nie ingestel nie omdat die lugdiens in Desember in sakeredding geplaas is.

Die sakeredders het R2,2 miljard vir dié pakkette, sowel as ander afleggingspakkette, begroot.

Die finale ooreenkoms ten opsigte van die “nuwe” SAL behels dat 1 000 werknemers hul werk sal hou, terwyl ’n verdere 1 000 vir ’n jaar in diens sal bly waartydens hulle aan ’n vaardigheidsontwikkelingsprogram sal deelneem.

Gedurende dié 12 maande moet die SAL elke maand R4 650 tot elkeen se mediese en pensioenfonds bydra en ook ’n bydrae tot die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) doen.

Die SAL moet die werknemers ook bystaan om by die WVF se Covid-19-Ters-skema vir finansiële steun aansoek te doen. Soos met gewone WVF-voordele, word net ’n maksimum van R6 730 per persoon uitbetaal indien dit goedgekeur word.

Die sakeredders het egter teen Vrydag nog geen geld van die tesourie of die departement van openbare ondernemings ontvang nie.

Matuson en Dongwana het Donderdag aan Netwerk24 bevestig hulle het minstens R2 miljard nodig vir die pakkette voordat hulle kan voortgaan met die ommekeer van die lugdiens.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.