Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAL moet meer as R1 mjd. aan Comair opdok

In ’n groot oorwinning vir die private lugdiensgroep Comair het die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) ingestem om Comair ’n bedrag van R1,108 miljard plus rente te betaal as deel van ’n skikking oor teenmededingende gedrag.

Erik Venter, uitvoerende hoof van Comair, het rede om te glimlag.

Beleggers dink ook dis goeie nuus, want sy aandeelprys het Vrydag met byna 21% tot R5,50 geklim.

Die SAL het vanaf einde Februarie tot 28 Julie 2022 tyd om die bedrag aan Comair te betaal.

Die SAL moet ook Comair se regskoste betaal en die twee het ooreengekom om enige appèl en teenappèl wat tans nog voor die appèlhof dien, terug te trek.

Die saak spruit uit ’n siviele eis wat Comair al 15 jaar gelede teen die SAL ingedien het vir skadevergoeding weens wat hy teenmededingende gedrag van die SAL beskryf het waardeur hy reisagente finansieel aangespoor het om eerder SAL-vliegkaartjies te verkoop as ander lugdienste s’n.

Die jongste skikking is as ’n hofbevel deur die appèlhof bekragtig.

Erik Venter, uitvoerende hoof van Comair, was nie Vrydag vir kommentaar bereikbaar nie.

Dit is een van die eerste geslaagde siviele eise van sy aard in die Suid-Afrikaanse hofgeskiedenis.

Comair bedryf die plaaslike franchise van British Airways asook die laekostelugdiens kulula.com.

Comair bedryf die laekostelugdiens Kulula.com en die plaaslike franchise van British Airways.

Die Nationwide-lugdiens, wat juis gedeeltelik weens die kwaai mededinging van die SAL en ander lugdienste in die 2000’s gevou het, het in 2016 geslaag met ’n soortgelyke eis teen die SAL vir ’n bedrag van net meer as R104 miljoen. Dit was weens die SAL se misbruik van sy markoorheersing in die tydperk tussen 2001 en 2006.

Nationwide het in 2008 bankrot gespeel. Ander lugdienste wat sedertdien gevou het sluit in 1time in 2012 en Flitestar.

Die mededingingsowerhede het die SAL al in 2005 beveel om ’n administratiewe boete van R45 miljoen te betaal omdat hy van 1999 tot 2001 aansporings aan reisagente betaal het as hulle passasiers weg van mededingers na die SAL gekanaliseer het.

’n Siviele eis van Nationwide teen die SAL vir R43 miljoen is vroeër vertroulik geskik voordat ’n hofsaak daaroor in 2006 kon begin.

Die SAL het benewens die siviele eise verskeie administratiewe boetes betaal nadat die mededingingsowerhede hom aan onmededingende gedrag skuldig bevind het. Dit was R15 miljoen in 2004, R20 miljoen in 2005, R20 miljoen in 2006 en R18,79 miljoen in 2010.

Meer oor:  Suid-Afrikaanse Lugdiens  |  Comair  |  Nationwide  |  Lugdiens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.