Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAL móét opdok vir vlieëniers se salarisse én etes

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) is opdrag gegee om nie net vlieëniers se agterstallige salarisse te betaal nie, maar ook hul toelaes vir kos ter waarde van R11 miljoen.

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) moet miljoene rand opdok aan vlieëniers wat laas in Maart 2020 betaal is. Foto: Getty Images

Regter Louis Harms, afgetrede regter van die appèlhof, het die beslissing Vrydag as deel van ’n verpligte arbitrasieproses tussen die SAL en die SAL-Vlieëniersvereniging (Saapa) gemaak.

Die proses was deel van die sakereddingsplan en het vereis dat ’n afgetrede regter ’n arbitrasieproses tussen die twee partye fasiliteer en tot ’n gevolgtrekking kom waarteen geen appèl aangeteken kan word nie.

Die SAL moet ingevolge die uitspraak agterstallige salarisse vir die tydperk tussen 1 Junie 2020 en 18 Desember 2020 aan alle vlieëniers uitbetaal.

Volgens Cathy Bill, woordvoerder van Saapa, geld dit ook vir vlieëniers wat aanvanklik gebieg het en in 2020 uit desperaatheid die sakeredders se kompromis van slegs drie en ’n half maande se salarisse aanvaar het.

“Die ooreenkoms van die sakeredders het ’n klousule wat sê as enige vakbond ’n beter aanbod kan kry, sal dit die skikkingsooreenkoms wat aanvaar is, oorskry,” sê Bill aan Netwerk24.

Vlieëniers is laas in Maart 2020 betaal.

As deel van die arbitrasieproses was hul kostoelae ook op die tafel. Die SAL skuld volgens die beslissing ook vir die vlieëniers R11 miljoen vir etes wat hulle oorsee gehad het in die tydperk voor die sakeredding. Hierdie toelaes is nie betaal nie omdat die lugdiens se geldsake so onder druk was.

Bill verduidelik aan Netwerk24 dat die toelae vir kajuitpersoneel is wat oorsee land en dan in oorsese restaurante moet eet voordat hulle weer terugvlieg. R11 miljoen se rekening is so opgebou in die maande voor die sakereddingsproses begin het.

Die uitspraak het dus bevind dat Saapa se eise deel is van indiensneming en dus voorkeur moet kry bo die eise van die SAL se krediteure. Die SAL het aanvanklik aangevoer dat sy krediteure voorkeur moet kry.

Bill verduidelik dat salarisse vir April en Mei egter nog uitstaande bly. Hier, voer die lugdiens en sy sakeredders aan, het die staat van inperking hom verhoed om sake te doen en werknemers se eis vir vergoeding is dus hier opgeskort. Bill sê dat dié betalings nou die onderwerp van ’n verdere arbitrasieproses is en dat dit hopelik eersdaags afgehandel sal word.

Die vlieëniers van die SAL is al sedert 18 Desember by die lugdiens uitgesluit. Sedertdien verdien hulle geen salaris nie en mag daar ook nie kritieke opleiding gedoen word nie.

Dit was ’n poging van die voormalige sakeredders om die vakbond te dwing om tot ooreenkomste oor hul skeidingspakkette en nuwe diensvoorwaardes vir die nuwe SAL in te stem.

Saapa het egter tot dusver nog steeds nie met die lugdiens se aanbod saamgestem nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.