Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAL: Nóg R10 mjd. van staat nodig

As die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se krediteure Dinsdag sy omstrede reddingsplan goedkeur, moet die regering binne ’n week ’n skriftelike onderneming gee dat hy die plan sal finansier.

Die privatisering van die SAL is ’n oplossing, maar onwaarskynlik. Foto: waldo swiegers

Só ’n onderneming sal egter weinig meer wees as politieke oëverblindery wat kwesbaar is vir litigasie, sê kenners.

Buiten die meer as R16 miljard wat die regering reeds in sy begroting opsy gesit het om die SAL-lenings te betaal wat hy gewaarborg het, moet nog meer as R10 miljard gevind word om die reddingsplan te finansier. Dít sluit in R2,2 miljard vir personeel se ruim skeidingspakkette, R600 miljoen vir skuldeisers, R1,7 miljard vir vliegtuighuur, R2,8 miljard om die “nuwe” SAL weer aan die vlieg te kry en R3,2 miljard om passasiers te vergoed vir vliegkaartjies waarvoor hulle betaal het, maar nie gebruik het nie.

Volgens Dawie van der Merwe, direkteur van BDO Business Restructuring, vra die sakeredders inderwaarheid ’n waarborg van die regering vir die reddingsfinansiering.

Of so ’n brief die papier werd sal wees waarop dit geskryf is, is egter ’n ope vraag, sê hy.

Tito Mboweni, minister van finansies, het in sy onlangse noodbegroting geen voorsiening gemaak vir ekstra geld vir die SAL nie en die tesourie het dit daarna in die parlement duidelik gemaak dat daar nie geld daarvoor beskikbaar is nie.

Die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, se woordvoerder, Sam Mkokeli, het egter by navraag gesê die kabinet en pres. Cyril Ramaphosa het dit duidelik gestel dat hulle die redding van die SAL steun en sal daarom die geld moet vind.

Hy het ook daarop gewys dat vyf partye reeds belangstelling getoon het om ’n aandeel in die SAL te koop.

Daar is egter geen besonderhede beskikbaar nie en skynbaar geen vaste aanbiedinge nie. Rapport het verder vasgestel dat geen party nog begin het met ’n noulettendheidsondersoek na die SAL met die oog op ’n vaste aanbod nie.

Dit is eerder ’n politieke onderneming om ’n plan te ondersteun en beteken nie die geld is daar nie. Dis eintlik maar politieke oëverblindery.
Prof. Bernard Bekink

Prof. Bernard Bekink, hoogleraar in openbare reg aan die Universiteit van Pretoria, twyfel of die betrokke ministers die bevoegdheid het om die regering regtens te verbind tot die finansiering van die reddingsplan sonder om formele regeringsprosesse vir die toewysing van geld te volg.

Hy sê die besteding van staatsgeld is onderhewig aan formele prosesse waarin ander partye geken moet word en waaroor die parlement toesig moet hou.

As die regering so ’n brief verskaf sonder om die prosesse te volg, kan dit nie ’n regsgeldige kontrak vir die verskaffing van geld wees nie, sê hy.

“Dit is eerder ’n politieke onderneming om ’n plan te ondersteun en beteken nie die geld is daar nie. Dis eintlik maar politieke oëverblindery.”

Theo Venter, politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit se sakeskool, sê Gordhan word toenemend gekritiseer oor sy outokratiese optrede rakende die SAL. Hy kan nie so ’n brief gee sonder dat daar duidelikheid is oor waar die geld vandaan gaan kom nie, sê Venter.

Hy sê die regering weet die enigste antwoord om die SAL te behou, is om dit op die een of ander manier te privatiseer, “maar die p-woord is polities onaanvaarbaar”.

Gordhan streef na ’n manier om verby die politieke weerstand teen privatisering te kom en het gehoop hy kan die sakeredders manipuleer om sy doelwit te bereik. Onlangse hofuitsprake toon egter duidelik dat die sakeredders gebonde is aan die toepaslike wette en nie net kan doen wat hulle of die minister wil nie.

Hy meen nietemin Gordhan gaan die onderneming gee, met instemming van die tesourie, omdat die ANC politieke steun sal verloor as dit duidelik word dat hy “nie net die SAL deur sy agterent getrek het nie, maar dit ook totaal laat ondergaan het”.

Venter meen gesprekke agter die skerms om die geld te vind “is verder gevorder het as wat ons dink”. Dit kan ruimte laat vir partye om die kwessie in die hof te beveg.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.