Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAL: Nuwe bestuur neem leisels oor

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) het ’n nuwe bestuur wat hom moet lei nadat die sakeredders hul werk afgehandel het.

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens het nou ’n nuwe tussentydse bestuur, maar die DA is skepties oor of dit hoegenaamd 'n verskil sal maak. Foto: Getty Images

Thomas Kgokolo is die nuwe tussentydse uitvoerende hoof.

Kgokolo vorm deel van die tussentydse bestuur wat op 13 April aangestel is om die leisels van die sakeredders oor te neem, luidens interne kommunikasie van die SAL wat Netwerk24 gesien het.

Kgokolo is ’n geoktrooieerde rekenmeester met 15 jaar ondervinding in die openbare sektor en meer as tien jaar ondervinding as ’n nie-uitvoerende direkteur.

Kgokolo beskik ook oor ’n MBA-graad wat hy van die Gordon Institute of Business Science verwerf het.

Kgokolo was van 2014 tot 2015 ook die finansiële hoof van die Mededingingskommissie en is sedert 2018 ’n raadslid van die Air Traffic Navigation Services (ATNS).

Die DA het egter min vertroue in Kgokolo.

“Kgokolo het geen werklike mededingende handelservaring in enige pos in die private sektor nie, wat nog te sê van die lugdiensbedryf. Daarom is die kans dat hy die SAL winsgewend sal maak, vir alle doeleindes nie moontlik nie,” sê Alf Lees, DA-LP, Donderdag in ’n verklaring.

“Hy sal ongetwyfeld ’n baie mooi salaris en toelae ontvang, selfs al is die SAL onder die bestuur van sakeredders, so ’n mens vra jou af watter waarde die SAL en die belastingbetaler sal kry uit die betalings aan Kgokolo en sy uitvoerende gesag.”

SAL
Thomas Kgokolo, nuwe tussentydse uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Lugdiens. Foto: Accountancy SA

Lees versoek dat Kgokolo dadelik kom getuig voor die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) en die SAL se jaarverslae, wat al baie lank agterstallig is, kom voorlê.

Lees sê Kgokolo sal as misdadige direkteur optree as hy nie binnekort die jaarverslae verskaf nie.

“Die DA is van mening dat daar min of niks oorbly van die SAL en sy filiale nie. Hierdie stap om ’n persoon aan te stel wat geen mededingende handelservaring in die lugdiensbedryf het nie, is maar ’n nuttelose oefening om die ANC se ydelheidsprojek lewend te hou, met die belastingbetalers wat sal moet opdok.

“Daar is geen manier dat die SAL as ’n staatsonderneming sal slaag onder die voortdurende inmenging van ANC-politici en sonder voortdurende reddingsboeie van belastingbetalers nie.”

Die SAL het ook vir Fikile Mhlontlo as tussentydse finansiële hoof aangestel, Mpho Letlape as tussentydse mensehulpbronbestuurder en kapt. Sakhile Reiling as bedryfshoof.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.