SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAL: Nuwe loonaanbod op die tafel

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) gaan Donderdagmiddag ’n nuwe loonaanbod aan vakbonde doen om ’n dreigende staking by die lugdiens en sy filiale af te weer.

Fin24 berig Phakamile Hlubi-Majola, woordvoerder van die National Union of Metalworkers of South Africa (Numsa), sê die aanbod gaan om 14:00 voorgelê word. Sy wou nie besonderhede daaroor bekend maak nie.

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens het alle vlugte wat vir Vrydag en Saterdag geskeduleer was, kanselleer. Foto: Bloomberg

Sowat 3 000 lede van Numsa en die Suid-Afrikaanse Kajuitpersoneelvereniging beoog om van Vrydag af te staak.

Die staking sluit ook SAL Tegnies in en raak dus ook die onderhoud aan vliegtuie van onder meer British Airways en Kulula.

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) het alle binne- en buitelandse vlugte gekanselleer wat vir Vrydag en Saterdag geskeduleer was.

Die SAL het dié week herhaaldelik gesê ’n staking sal meebring dat hy alle bedrywighede moet opskort.

“Dit kan dalk selfs lei tot die sluiting van die lugdiens, want verskaffers sal wonder of hulle moet aanhou om dienste te bied. Dit is waarom ons die vakbonde gevra het om saam te praat oor hoe ons vorentoe kan beweeg in dié moeilike tye,” het Deon Fredericks, waarnemende finansiële hoof van die SAL, Dinsdag op ’n mediakonferensie gesê.

Die staking kom nadat die staatsbeheerde lugdiens dié week aangekondig het hy begin met herstrukturering wat tot die aflegging van 944 mense kan lei.

Die vakbonde eis verhogings van 7,5% tot 8%, terwyl die SAL 5,9% aangebied het. Vakbonde eis ook werksekerheid vir minstens drie jaar.

Die parlement het dié week gehoor die SAL kan kwalik as ’n lopende saak beskou word, maar dat likwidasie te duur sal wees. Dit kan tot R40 miljard kos.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.