Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAL: Nuwe vennoot pleeg glo ‘korrupsie’ met GEPF

Een van die nuwe strategiese ekwiteitsvennote van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) is reeds in die Mpati-verslag oor korrupsie by die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) uitgewys as “korrup”.

sal
Tshepo Mahloele, voorsitter van die konsortium Takatso.

Vrydag is aangekondig dat ’n private konsortium die meerderheidsbelang (51%) in die SAL gaan bekom, maar een van die vennote in die konsortium is dalk besig om pensioengeld te gebruik om sy belang in die staat se lugdiens te kry.

Die twee entiteite waaruit die Takatso-konsortium bestaan, is Global Aviation, wat plaaslik Lift bedryf, en Harith General Partners, ’n belegger in infrastruktuur in Afrika. Saam beteken dit die konsortium is 51% in swart besit.

Maar dis die OBK wat ’n groot belang in Harith besit.

“Harith is eintlik opgestel deur die OBK,” sê ’n lugvaartkenner wat naamloos wil bly.

Volgens die ingeligte is Global Aviation ’n gerespekteerde entiteit in die lugvaartbedryf, maar “daar is iets snaaks en kommerwekkends” oor Harith wat nie sin maak nie.

In die Mpati-verslag se aanbevelings oor wanbestuur by die OBK word ’n hele hoofstuk aan Harith gewy.

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens hoop om weer binnekort op te styg.

Harith is in 2007 deur die OBK opgerig in opdrag van die destydse president, Thabo Mbeki, en was gemik daarop om honderdmiljoene dollars hoofsaaklik vanaf die staatspensioenfonds (GEPF) te benut om in Afrika-infrastruktuur te belê.

Harith het onder die leiding van Tshepo Mahloele, nou voorsitter van die Takatso-konsortium, die GEPF na bewering geplunder vir geld in wat die Mpati-kommissie “wettige korrupsie” noem.

“Een van die moeilikste take rakende die hantering van die soort korrupsie wat na bewering by die OBK plaasgevind het, is die ingewikkelde aard van die transaksies,” haal die verslag vir genl. Bantu Holomisa, UDM-leier, aan.

Wettige korrupsie vind plaas wanneer die elite ’n wettige raamwerk bou wat korrupsie beskerm of bestaande regsraamwerk manipuleer sonder om noodwendig die wet te oortree.
Genl. Bantu Holomisa van die UDM

“Korrupsie kan in twee vorme voorkom, wettige en onwettige korrupsie. Wettige korrupsie vind plaas wanneer die elite ’n wettige raamwerk bou wat korrupsie beskerm of bestaande regsraamwerk manipuleer sonder om noodwendig die wet te oortree.”

Volgens die Mpati-verslag is dit presies wat gebeur het met Harith, en Mohloele het homself verryk deur “wettige korrupsie” in te span ten koste van die pensioenarisse van die land.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, wat Vrydag die aankondiging oor die konsortium gemaak het, was ook betrokke by die opstel van Harith.

In sy destydse kapasiteit as minister van finansies, het Gordhan die OBK toestemming gegee om sy belang in Harith tot 46% te vergroot, met Mahloele as uitvoerende hoof.

Die GEPF het die aansoek teengestaan, maar Gordhan het dit nietemin goedgekeur.

Reddingsboeie aan die SAL

Die SAL het al sedert 1994 sowat R73 miljard se reddingsboeie ontvang, sonder die jongste R10,5 miljard wat beloof is en die verdere R3,5 miljard wat oor die volgende drie jaar betaalbaar sal word.

Die SAL het in die 13 jaar tot en met 2019 (die laaste jaar wat hy finansiële state uitgereik het) ’n kumulatiewe verlies van sowat R28 miljard gely.

Volgens die GEPF het Harith prestasiebonusse verdien uit die geld wat hy bestuur het, teenstrydig met beleid. Die geld moes eintlik eerder in die vorm van dividende teruggevloei het na die GEPF en sy lede.

Harith het na bewering deur middel van goedgekeurde tariefstrukture die GEPF se geld uitgebuit om rekordwinste te genereer wat gevloei het na sy private aandeelhouers en bestuur.

Wayne Duvenage, uitvoerende hoof van die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa), is ook bekommerd oor die aanstelling van Harith as ekwiteitsvennoot van die SAL.

Volgens hom was hy reeds vantevore bekommerd dat die staat deur middel van die OBK sy greep op die SAL sou behou.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings.

Hy reken die dae van reddingsboeie aan die SAL is nog ver van verby. Nou sal dit egter nie net die belastingbetaler wees wat voortaan moet opdok vir die SAL se verliese nie. Dit raak dalk die verhogings in pensioen wat afgetrede staatsamptenare kan kry (die GEPF is ’n vastevoordelefonds, met verhogings van minstens die inflasiekoers wat gewaarborg word; enigiets meer hang van opbrengskoerse af).

Die OBK sal sy deel moet doen, deur middel van Harith, indien die SAL, soos verwag word, aanhou verliese ly.

Die lugvaartkenner sê dit is ongetwyfeld so dat die SAL “minstens” vier jaar lank nog sal verliese ly.

“Die bedryf as geheel gaan eers in 2024 herstel, wat nog te sê van die SAL?”

As deel van die sakereddingsplan het krediteure van die SAL slegs 7c in die rand teruggekry.

“Daar is dus geen aptyt om weer vir die lugdiens geld te leen nie.”

Al het Gordhan Vrydag herhaaldelik gesê dat die lugdiens nou “onafhanklik van die fiskus” sal voortbestaan, blyk dit ’n onmoontlike uitweg te wees.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.