Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAL: ‘Ons kan régtig nie 8% bekostig’

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) kan eintlik nie eens die 5,9%-salarisverhoging bekostig wat hy werknemers belowe het nie, wat nog te sê die 8% wat vakbonde eis.

Zuks Ramasia, waarnemende uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Lugdiens. Foto: Reuters

Dit is die boodskap wat Zuks Ramasia, waarnemende uitvoerende hoof, en Thandeka Mgoduso, waarnemende voorsitter van die SAL se direksie, Dinsdag, telkemale herhaal het.

Die twee het saam met ander lede van die uitvoerende bestuur van die SAL die media Dinsdag by die lugdiens se hoofkantoor in Kempton Park op hoogte gebring van die stand van sake wat die staking by die lugdiens betref.

Die metaalwerkersvakbond, Numsa, en die Suid-Afrikaanse Kajuitpersoneelvereniging (Sacca) staak sedert Vrydag by die lugdiens.

Hulle hou voet by stuk dat salarisse met 8% verhoog moet word.

Die SAL het bevestig dat sowat ’n vyfde van sy 10 000 werkers, dus nagenoeg 2 000 mense, tans staak.

Vakbonde het ook sedertdien twee verdere eise bygevoeg. Hulle dring nou daarop aan dat die SAL moet afsien van sy plan om minstens 944 werkers as deel van sy herstrukturering uit diens te stel én dat werkers deur middel van inkontraktering bekom moet word.

Boonop beweer die vakbonde aangesien hul lede nie tans werk nie, die SAL se vliegtuie nié veilig is nie omdat daar volgens hulle nie mense met die regte vaardighede inspeksies uitvoer nie.

Salarisverhoging

Mgoduso het geen doekies omgedraai nie en sê reguit soos sake tans staan, kan die SAL géén salarisverhoging bekostig nie.

“Ons kon net die 5,9% aanbied met die verstandhouding dat die SAL ’n lening van R2 miljard bekom. Dan kan ons dié verhoging eers in Maart betaal,” het sy verduidelik.

Die SAL se skuld tot dusver beloop R9,2 miljard, wat oor die volgende drie jaar betaalbaar is.

Ons het op die meeste sowat 400 tot 500 passasiers gehad wat by lughawens opgedaag het sonder dat hul vlugte geskuif was.
Philip Saunders van die SAL

“Ons weet daar is nie spasie in die fiskus vir die R2 miljard nie. Ons bespreek dié lening tans met ’n konsortium banke,” sê Mgoduso.

Sy het ook herhaal dat die staat dié lening sal moet waarborg. Indien die SAL nié die R2 miljard kan leen nie, sal hy bedrywighede moet staak.

Mgoduso het bevestig dat al die betrokke partye Dinsdagoggend met Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, vergader het.

“Ek kom pas terug van Pretoria waar ek met Gordhan en die vakbonde Numsa en Sacca vergader het. Ons sal vanmiddag weer met die vakbonde vergader,” sê Mgoduso.

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens se hoofkantoor in Kempton Park. Foto: Elvira Wood

Verdere eise

Ramasia sê dat vakbonde nie daarop geregtig is om gedurende ’n staking verdere eise by te voeg nie. Veral aangesien dié eise niks te make het met loononderhandelinge nie.

Sy het bevestig die SAL sal nou die arbeidshof dringend nader oor hierdie eise om ’n interdik daarteen te kry.

Veiligheid

Ramasia sê die Burgerlugvaartowerheid het Dinsdagoggend bevestig dat al die SAL se vliegtuie veilig is.

“Ons het seker gemaak ons het die regte personeel wat werk. Dit is jammer dat vakbonde die stellings oor veiligheid gemaak het. Ons doen regsaksie hieroor,” sê sy.

Kapt. Mpho Mamashela, waarnemende hoofvlieënier en vlootkaptein, het ook bevestig dat die vliegtuie veilig is.

Hy sê die feit dat die vlug Maandag waar die kajuitpersoneel en vlieëniers die minste ervaring gehad het, saam 13 236 vliegure se ervaring gehad het, is ’n bewys van hóé bekwaam die mense is wat wel werk.

Vlugte

Mgoduso het aangekondig dat die SAL teen Donderdag weer twee retoervlugte tussen Johannesburg en Kaapstad en een tussen Johannesburg en Durban sal instel.

Al sy internasionale vlugte styg reeds weer volgens skedule op, terwyl verskeie van sy streeksvlugte weer van Dinsdag af vlieg.

Philip Saunders, bedryfshoof van die SAL, sê Vrydag en Saterdag is sowat 11 000 passasiers per dag deur die staking beïnvloed.

Ja, daar was berigte dat dit ons sowat R52 miljoen per dag kos. Dié koste verander egter soos wat ons meer vliegtuie in die lug kry
Philip Saunders van die SAL

“Ons besluit om vroeg reeds aan te kondig dat ons nie gaan vlieg nie, het gehelp om betyds bewustheid onder die meeste van ons passasiers te skep.

“Ons het op die meeste sowat 400 tot 500 passasiers gehad wat by lughawens opgedaag het sonder dat hul vlugte geskuif was,” sê hy.

Saunders erken dat daar moontlik passasiers gestrand was waarvan die SAL nie bewus was nie.

“Ons het ons bes gedoen om passasiers te help waar ons kon,” sê hy.

Saunders sê dit is nog onseker hoeveel die staking die SAL uit die sak jaag.

“Ja, daar was berigte dat dit ons sowat R52 miljoen per dag kos. Dié koste verander egter soos wat ons meer vliegtuie in die lug kry,” sê hy.

Saunders sê dit sal tyd neem om die ware finansiële omvang van die staking te bereken aangesien alle veranderlikes bereken is. Dit sluit onder meer eise deur passasiers, parkeerkoste van vliegtuie, die herbespreking van kaartjies en vele meer in.

Passasiers word steeds aangeraai om die SAL of hul reisagent te kontak om hul vlugbesonderhede te bevestig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.