Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Meer as helfte van SAL-werkers kan op straat sit

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) gaan tot 2 379 werknemers aflê, is pas aangekondig.

Luidens ’n verklaring deur die sakeredders, Les Matuson en Siviwe Dongwana, gaan al 4 708 plaaslike werknemers van die SAL deur die herstrukturering geraak word.

Die SAL se kaartjieverkope het gestagneer. Foto: Bloomberg

Hoeveel mense hul werk kan verloor, sê die sakeredders nie in die verklaring nie, maar hulle sê “poste kan oortollig verklaar word oor verskeie poskategorieë en in beduidende getalle”. 

Volgens Morné Malan, Solidariteit-woordvoerder oor die SAL, word die syfer van 2 379 oortollige poste in die afleggingskennisgewing genoem.

Dit is dus net meer as die helfte van al SAL se werknemers.

As herstrukturering van die arbeidsmag nie gedoen word nie, sal die SAL gelikwideer moet word en sal álle werknemers hul werk verloor, luidens die gesamentlike verklaring deur die sakeredders.

Benewens afleggings word voorsien dat diensvoorwaardes herbeding gaan word en heelwat sal verander, “insluitend vergoeding en voordele”.

Die sakeredders sê hy het begin met konsultasies met erkende SAL-vakbonde ingevolge art. 189 en 189A van die Wet op Arbeidsverhoudinge.

“Die sakeredders het so onlangs as die afgelope naweek met die vakbonde in gepsprek getree oor die proses en die plan om met konsultasies te begin.

“Ons plan was nog altyd om soveel as moontlik poste te behou, maar om daarop te fokus om ’n volhoubare lugdiens en platform vir groei te skep,” luidens die gesamentlike verklaring.

Die proses sluit slegs die 4 708 plaaslike werknemers van die SAL in, en nie dié van sy filiale Mango, SAL Tegnies of Airchefs nie.

’n Bemiddelaar van die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie gaan aangewys word om met die konsultasies te help. Die eerste konsultasie vind reeds Donderdag  plaas.

Die finale hoeveelheid werknemers wat hul werk gaan verloor, sal in dié proses bepaal word.

Malan beskryf die pas aangekondigde proses as “onverskillig” omdat daar steeds geen besonderhede is oor die sakereddingsplan vir die SAL nie. Die sakeredders het die publikasie van die plan al herhaaldelik uitgestel en dit word nou einde Maart verwag.

Malan sê volgens Solidariteit kan die SAL genoeg geld bespaar deur natuurlike personeelomset en vrywillige skeidingspakkette (VSP’s).

Hy sê hoewel die sakeredders al verwys het na VSP’s, “hang alles in die lug”. “Die gesprekke is vaag en ’n mens sukkel om 'n te verstaan wat hulle van plan is om te doen.”

Luidens die verklaring maak verskeie probleme die afleggings onafwendbaar. Die lugdiens het die afgelope ses jaar ’n kumulatiewe verlies van R26 miljard gely.

Vlugte was in Januarie gemiddeld net 71% vol en kaartjieverkope het gestagneer.

Die sakeredders sê die wêreldwye afname in reis weens die koronavirus sal dinge vererger.

Hulle sê die finansieringskrisis die afgelope paar maande, die hok van vliegtuie in Oktober 2019, die agtdaagse staking in November 2019 en die verlies aan reisversekering nadat die lugdiens in Desember in sakeredding geplaas is, het sy inkomste laat val.

Die SAL se inkomste het met meer as R1,3 miljard gedaal, terwyl die koste bykans onveranderd gebly het.

“Die veranderinge wat by die SAL vereis word, is dus sowel struktureel as ekonomies. Dit is dringend as likwidasie uiteindelik afgeweer moet word. As dít gebeur, sal alle werknemers hul werk verloor.”

Die sakeredders voorsien ’n “grondliggende herstrukturering” van die lugdiens.

Die sakeredders sê verskeie ander opsies is oorweeg, insluitend die vermindering van kontrakwerkers en herbedinging van verkrygingskontrakte, maar niks daarvan sal genoeg wees nie.

Die sakeredders sê hulle het met die Werkloosheidsversekeringsfonds gepraat oor die heropleiding van werknemers wat hul werk verloor.

“Ons moet beklemtoon dat geen finale besluite geneem is nie, en ook nie geneem sal word totdat ons konsultasie uitgeput het nie, en hopelik bereik ons ’n ooreenkoms.” 

Die SAL se erkende vakbonde is die Suid-Afrikaanse Lugdiensvlieëniersvereniging (Saapa), National Transport Movement (NTM), NTM Management Forum, die Suid-Afrikaanse Kajuitpersoneelvereniging (Sacca), die South African Transport and Allied Workers Union (Satawu), Solidariteit, die Aviation Union of South Africa (Ausa) en die National Union of Metalworkers of South Africa (Numsa).




MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.