Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAL-redders verloor appèl oor pakkette
Die sakeredders wat by die Suid-Afrikaanse Lugdiens aangestel is kon nie skeidingspakkette aan werknemers aanbied voordat ’n sakereddingsplan gereed was nie. Foto: Twitter

’n Sakereddingsplan moet eers gereed wees voordat die sakeredders by die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) werkers uit diens kan stel.

Die arbeidsappèlhof het Donderdag die aansoek om appèl deur die sakeredders in ’n saak oor afleggings by die SAL van die hand gewys.

Regter André van Niekerk van die arbeidshof het op 8 Mei beslis die afleggingskennisgewings wat die sakeredders al aan SAL-personeel uitgereik het, moet teruggetrek word.

Van Niekerk se uitspraak was ten gunste van die vakbonde Numsa en die Suid-Afrikaanse Kajuitpersoneelvereniging (Sacca), wat gesê het die vakbonde kan nie behoorlik aan onderhandelinge oor die afleggingsproses deelneem as hulle nie insae in die sakeredders se plan vir die SAL het nie. Die hof het beslis die sakeredders kan nie voortgaan met die art. 189-proses as hulle nog nie ’n behoorlike sakereddingsplan voorgelê het nie.

Die reddingsplan vir die SAL is eers op 16 Junie ingedien.

’n Volbank regters, waaronder regter Dennis Davis, het die aansoek om appèl op 30 Junie aangehoor.

Adv. Andrew Redding SC, wat die sakeredders verteenwoordig het, het tydens hofverrigtinge gemaan dat sou dié uitspraak deur Van Niekerk in plek bly, dit ’n groot invloed sal hê op alle ander sakereddingsprosesse, aangesien dit sal keer dat ’n proses ingevolge art. 189 van die Wet op Arbeidsverhoudinge kan begin voordat ’n reddingsplan voorgelê word.

Redding sê dit sal minstens 60 dae duur van die dag wat die sakereddingsplan goedgekeur word voordat skeidingspakkette dan aan werknemers aanbied kan word.

Krediteure stem op 14 Julie oor of hulle die reddingsplan vir die SAL gaan steun of nie.

Vakbonde, wat Numsa en Sacca insluit, het dié week gesê hulle sal die voorgestelde skeidingspakkette aanvaar.

Dit is op die voorwaarde dat die SAL nie net 1 000 werknemers in diens moet hou soos wat die sakeredders in hul plan voorstel nie, maar dat ’n verdere 1 000 vir ’n jaar in diens moet bly waartydens hulle aan ’n vaardigheidsprogram sal deelneem.

In dié 12 maande moet die SAL maandeliks R4 650 tot hul mediese- en pensioenfonds bydra en ook ’n bydrae tot die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) maak.

Die SAL moet die werknemers ook bystaan om by die WVF se Ters-skema vir finansiële steun aansoek te doen.

Adv. Temba Ngcukoitobi SC het die vakbonde verteenwoordig.

Meer oor:  Sacca  |  Suid-Afrikaanse Lugdiens  |  Numsa  |  Siviwe Dongwana  |  Les Matuson  |  Vakbonde  |  Sakeredders
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.