Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAL-redding: Waar staan sake jaar later?
’n Jaar nadat die Suid-Afrikaanse Lugdiens in sakeredding geplaas is, vlieg hy steeds nie. Foto: Twitter

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) vlieg steeds nie.

Op Saterdag 5 Desember is dit ’n jaar sedert die lugdiens vrywillig in sakeredding geplaas is.

Die Maatskappywet stel dit duidelik dat die sakereddingsplan van ’n maatskappy binne drie maande goedgekeur moet word.

Regter Dennis Davis, wat oorspronklik gehelp het om die wetgewing te skep, het reeds in Junie gevra hoekom die redding van die SAL so lank duur.

“Ek sou nooit kon dink dat dit tot ses maande kon duur om ’n sakereddingsplan ter tafel te lê nie,” het hy gedurende ’n appèlaansoek in ’n saak oor afleggings gesê.

Die vraag is nou, nóg ses maande later, wat die afgelope jaar gebeur het en waar sake nou staan.

Sakeredders

Toe die SAL in sakeredding geplaas is, was daar onmiddellik vrae oor wie die sakeredders behoort te wees. Die vakbond Solidariteit, wat probeer het om via ’n hofbevel die lugdiens te dwing om in redding te gaan, het sy eie voorstelle gehad.

Les Matuson is op 5 Desember aangestel as die sakeredder. Siviwe Dongwana is kort daarna aangestel om hom by te staan.

Solidariteit was ontevrede oor Matuson se aanstelling, en het gesê dat die aanstelling “oorhaastig” was.

Die verhouding tussen die sakeredders en georganiseerde arbeid was uit die staanspoor nie goed nie.

Vakbonde het al in Februarie die sakeredders se koppe geëis toe hulle in ’n verklaring aangekondig het dat verskeie vlugte gekanselleer word. Dit was nog voordat die sakereddingsplan bekend gemaak is.

In April het vakbonde soos Numsa dit oorweeg om regstappe te doen om hulle te laat verwyder. Daar het egter dadels van gekom.

Sakereddingsplan

Die sakeredders het vyf keer uitstel by krediteure gevra voordat hulle eindelik op 15 Junie ’n reddingsplan ter tafel gelê het.

Die plan van 110 bladsye stel dit duidelik dat R26,7 miljard nodig is om die lugdiens te red. Aangesien die staat reeds voorheen ’n groot deel van dié geld bewillig het, beteken dit dat “net” R10,5 miljard ekstra gevind moes word.

Wat betref die lugdiens se vloot, sal net 26 van die 44 vliegtuie behou word.

Die plan bepaal ook dat net 1 000 poste behou word. Die SAL het 4 661 werknemers gehad toe die plan gepubliseer is.

R2,2 miljard van die R10,5 miljard wat vir die redding nodig is, was juis om skeidingspakkette te betaal.

Die departement van openbare ondernemings het talle kere ’n beroep op krediteure gedoen om die plan te aanvaar, terwyl veral die DA dit heftig teëgestaan het.

Die plan is wel op 15 Julie deur 86% van die krediteure aanvaar.

Vlugte

Die SAL was reeds in Februarie genoop om talle binne- en buitelandse vlugte weens geldnood te kanselleer. Teen die middel van Maart het die lugdiens ’n verdere 162 vlugte gekanselleer weens die lae passasierstalle te midde van die Covid-19-pandemie.

Teen April moes die lugdiens bykans alle vlugte staak weens die staat van inperking en reisverbod wat wêreldwyd lugdienste gehok het.

Die lugdiens het net ’n paar vlugte gevlieg om noodsaaklike vragte te vervoer, of om mense óf na Suid-Afrika terug te bring óf na hul eie lande te repatrieer te midde van die pandemie.

Pakkette en salarisse

Die geskil oor pakkette en salarisse het tot hofsake gelei.

Die pakkette wat aan werknemers gebied is, bestaan uit die minimum wat die wet voorskryf – een week se vergoeding vir elke jaar gewerk – maar sal bereken word op grond van salarisse met ’n 5,9%-verhoging wat terugwerkend bereken sal word.

Numsa en die Suid-Afrikaanse Kajuitpersoneelvereniging (Sacca) het ’n aansoek by die hof gebring oor die art. 189-proses. Hulle het gekla dat die SAL nie met dié proses kan begin en pakkette aanbied alvorens ’n sakereddingsplan ter tafel gelê is nie.

Die sakeredders het met die proses begin maande voordat hulle die sakereddingsplan voltooi het.

Hoewel die hof aanvanklik in die guns van die sakeredders beslis het, het die arbeidsappèlhof in Julie beslis dat die proses teruggetrek moet word.

Die art. 189-proses is hervat die oomblik toe die sakereddingsplan goedgekeur is.

Teen einde Augustus is meer as 3 000 van die lugdiens se werknemers se aansoek om ’n skeidingspakket te aanvaar, goedgekeur.

Geen geld is egter nog beskikbaar gestel om die pakkette te betaal nie.

Verkope

Die SAL het deur die loop van die jaar probeer om geld in die hande te kry deur van sy vliegtuie te verkoop en selfs duisende verbruiksartikels wat hy nie meer gaan gebruik nie.

In Januarie het die SAL ’n tender geplaas om nege van sy Airbus A340-, A300- en A600-vliegtuie en 15 spaarenjins te verkoop.

Einde November het hy duisende artikels – van toiletpapier tot drank – via WH Auctioneers verkoop.

R10,5 miljard

Die grootste rede waarom die SAL teen begin Desember nog nie weer vlieg nie, is omdat daar nog geen teken van die beloofde R10,5 miljard is om die sakereddingsplan tot uitvoer te bring nie.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het male sonder tal deur die loop van die jaar belowe dat die geld “iewers” gevind sal word.

Die departement het selfs Rand Merchant Bank aangestel om hom te help om moontlike finansierders vir die lugdiens te vind.

Daar was deur die loop van die jaar sprake dat Ethiopian Airlines belangstel in die SAL, maar daar was teen begin Desember nog geen vaste aanbiedinge nie.

Hoewel hy vroeër die jaar voet by stuk gehou het dat die staat nie wéér ’n reddingsboei vir die SAL sal gee nie, het Tito Mboweni, minister van finansies, tog in Oktober in sy mediumtermynbegrotingsraamwerk ingestem om die geld beskikbaar te stel.

Ander bestedingsprogramme en departemente moes R6,97 miljard inboet om deels die ekstra geld vir die SAL moontlik te maak.

Met steeds geen teken van die geld nie, het Mboweni laat in November konsternasie veroorsaak toe hy in die middernagtelike ure op Twitter gevra het: “Wat maak ons met die SAL?”

Hy het kort daarna ook gevra oor of Suid-Afrika ’n nasionale lugdiens nodig het.

SAL

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.