Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAL: Regering beloof glo R10,5 mjd. is ‘op pad’
Die staat beplan glo steeds om die SAL te red.Foto: Reuters

Die regering wil steeds die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) red.

Siviwe Dongwana, een van die sakeredders wat by die lugdiens aangestel is, het Vrydag op ’n aanlyn vergadering met belanghebbendes gesê dat hulle die oggend ’n brief van die departement van openbare ondernemings ontvang het waarin belowe word dat R10,5 miljard vir die SAL “op pad” is.

Volgens Dongwana word in die brief gesê dat die tesourie die sakeredders se plan steun en dat daar ’n “baie duidelike onderneming deur die kabinet is” om die R10,5 miljard beskikbaar te stel.

Hy het gesê daar is geen aanduiding wanneer die geld betaal gaan word of waar dit vandaan gaan kom nie.

Sou die geld wel betaal word, kan die lugdiens gered word, meen hy.

Hy het gesê tot kort voor Vrydag se vergadering en die ontvangs van die brief was die plan nog om belanghebbendes in te lig daaroor of dit die beste sal wees om die SAL te sluit of te laat likwideer.

Dongwana het in reaksie op vrae gesê dat die sakeredders in die komende week in gesprek met die departement sal wees oor wanneer die geld verwag kan word. Afhangende van wat hieruit kom, sal daar dan waarskynlik volgende week wéér 'n vergadering met belanghebbendes belê word om duidelikheid te gee oor wat die volgende stappe gaan wees.

"Ons moet kyk of die tydlyn van hoe die staat beplan om die geld te betaal, gaan bepaal of die lugdiens steeds gesluit of gelikwideer moet word of nie.

"Indien die geld vroeg genoeg beskikbaar word, dan sal nie een van die twee stappe oorweeg word nie," sê hy.

Dongwana wou nie die brief beskikbaar stel nie.

"Nee, ons sal nie die brief beskikbaar stel nie. Ons het nie vorige briewe beskikbaar gestel nie, en sal ook nie dié een met belanghebbendes deel nie," was sy antwoord op dié versoek.

Netwerk24 het spesifiek gevra dat die brief gedeel moet word.

Besonderhede oor 'n verdere vergadering sal volgende week bekend gemaak word.

Reaksie

Alf Lees, DA LP, sê in 'n verklaring dat die rede hoekom die sakeredders nie die brief bekend wil maak nie, is omdat Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, en die sakeredders “duidelik Suid-Afrika mislei het oor geld vir die SAL”.

Lees sê luidens die inligting wat hulle het, het Tito Mobweni, minister van finansies, nié ingestem om geld vir die SAL te gee nie en “dat daar geen geld in die nabye toekoms vir die SAL sal wees nie, en definitief nie teen volgende week nie.” 

Lees sê hy daag die sakeredders en Gordhan uit om hom verkeerd te bewys deur die brief te publiseer.

“Dit is nou duidelik dat die sakeredders met Gordhan ooreengekom het om die land te dwing om nog ’n reddingsboei van belastingbetalers af te dwing om die dooie eend wat die SAL is, te red,” sê hy in die verklaring.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.