Die sakeredders van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) is vasbeslote om voort te gaan met die herstrukturering van die lugdiens, al is die regering woedend.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings.
Netwerk24
Les Matuson en Siviwe Dongwana, gesamentlike sakereddingspraktisyns van die SAL, het Donderdag in ’n uiters drastiese stap aangekondig dat 11 roetes wat die SAL vlieg, geskrap word en dat afleggings wel die lugdiens se voorland is.
Hulle het verduidelik dat al word die finale sakereddingsplan eers aan die einde van die maand verwag, moes herstrukturering met hierdie stappe van stapel gestuur word sodat die lugdiens dit “tot die einde van die maand sal maak”.
Slegs een dag later het die regering egter dié besluite oor die kole gehaal.
Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het Vrydagmiddag laat aangekondig die regering sal voorleggings aan die sakereddingspraktisyns bied om hul besluit te hersien.
Pres. Cyril Ramaphosa het ook Vrydagmiddag by die Waterkloof-lugmagbasis voor sy vertrek na die Afrika-unie-beraad in Addis Abeba gesê die regering is nie tevrede met die sakereddingspraktisyns se besluit nie.
Vir die regering is daar ’n nasionale trots ter sprake by die SAL se vlugnetwerk.
Die sakeredders sê egter Sondag in ’n verklaring dat hul besluite noodsaaklik is om die SAL onafhanklik van verdere reddingsboeie vanaf die regering te kry.
“Die besluite wat ons hierdie week geneem en die publiek van in kennis gestel het, is in die beste belang van die SAL geneem,” sê Matuson en Dongwana.
“Dit is bedoel om die lugdiens kommersieel en operasioneel volhoubaar te maak, vry van die vereiste van toekomstige finansiering vanaf die regering ná die implementering van die herstrukturering.”
Vakbonde, provinsiale regerings, asook die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party, het ook gal gebraak oor die besluit om 11 roetes te skrap.
Louise Brugman, skakelbeampte vir die sakeredders, het Sondag aan Netwerk24 gesê dat die regering voortdurend wil vergader met Matuson en Dlongwana, maar dat geen verdere wysigings tot die plan gedoen sal word voordat die finale sakereddingsplan aan die einde van die maand gepubliseer word nie.
Die sakeredders sê hulle sal plek los vir die regering se griewe in die sakereddingsplan en sal aanhou om met hulle te vergader.