Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAL-sakeredder stem in om met vakbonde saam te werk
'n Vliegtuig van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) maak reg om te land.

Les Matuson, die sakereddingspraktisyn wat by die Suid-Afrikaanse Lugdiens aangestel is, het ingestem om die arbeidsektor te betrek by die omkeer van die SAL, het die vakbond Solidariteit Vrydagmiddag laat weet.

Solidariteit het Vrydag met die SAL-direksie se regsverteenwoordigers en met Matuson vergader.

Matuson het ingestem om Cloete Murray, ’n sakereddingspraktisyn wat Solidariteit aanvanklik voorgestel het, by die proses te betrek, moontlik as ’n onafhanklike voorsitter van die werknemerkomitee, het Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gesê.

Vuyani Jarana, vorige uitvoerende hoof van die SAL wat in Junie bedank het, sal ook deur Matuson genader word om te hoor of hy bereid is om sy hulp met die sakereddingsproses aan te bied.

Jarana het sy frustrasie met die stadige besluitnemingsproses in die staat aangegee as rede vir sy bedanking. Omdat sowel die departement van openbare ondernemings as die nasionale tesourie die SAL se besluite moes goedkeur voordat dit toegepas kon word, het dit volgens hom moeilik geraak om “met die nodige spoed en behendigheid te werk”.

Volgens Hermann het Solidariteit danksy sy eie aansoek om die SAL in sakeredding te laat plaas reeds baie voorbereidingswerk gedoen en het sy hulp aan Matuson aangebied.

Dit blyk die vergadering het ook saamgestem dat lugdiens-kenners – en veral dié wat sukses behaal het om sukkelende lugdienste om te keer – betrek moet word by die proses.

“Dis van kritieke belang dat die sakereddingspraktisyn onafhanklik moet wees, want ons het die resultate gesien van staatsinmenging by die bestuur van ’n lugdiens. Solidariteit is verseker van Matuson se onafhanklikheid. Ons sal die proses fyn dophou om seker te maak die staat meng nie in nie,” het Hermann gesê.

Dis van kritieke belang dat die sakereddingspraktisyn onafhanklik moet wees, want ons het die resultate gesien van staatsinmenging by die bestuur van ’n lugdiens.

Die SAL het Vrydag amptelik geen nuwe inligting bekend gemaak nie, behalwe om te bevestig dat Matuson as sakereddingspraktisyn aangestel is en dat die lugdiens Donderdag amptelik in sakeredding is ingevolge die voorsienings in die Maatskappyewet.

Op sy webblad vir vlugbesprekings is daar nog geen uitdruklike aanduiding aan passasiers van enige veranderings aan sy vliegrooster nie, en word spesiale aanbiedings geadverteer van vlugte tussen Johannesburg en Durban van R974, en van Johannesburg na verskillende ander Afrikastede wat wissel van R3 750 na Maputo in Mosambiek tot R10 340 vir ’n vlug na Abidjan in die Ivoorkus. Die SAL adverteer ook vlugte na Sao Paulo in Brasilië vir R8 250 en Frankfurt in Duitsland vir R11 940.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.