Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAL: Sakeredders kry uitstel vir plan tot 31 Maart

Die sakereddingsplan vir die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) word nou eers op 31 Maart bekend gemaak.

sakeredding
Die sakeredders van die Suid-Afrikaanse Lugdiens het nou tot einde Maart om hul sakereddingsplan te finaliseer. Foto: Reuters

Die SAL se krediteure het Siviwe Dongwana en Les Matuson, die lugdiens se sakeredders, se aansoek om uitstel goedgekeur. Die vorige sperdatum was Saterdag 29 Februarie.

Die sakeredders het Vrydag in ’n verklaring gesê hulle het kragtens art. 150(5) van die Maatskappywet op 26 Februarie aansoek om uitstel gedoen. Dit is omdat hulle nog besig is om die herstruktureringsplan en die stappe wat nodig gaan wees om dit ten uitvoer te bring, te finaliseer.

Dit sal in ’n konsepsakereddingsplan uiteengesit word wat dan aan alle belanghebbendes voorgelê sal word.

“Nadat die sakeredders alle daaropvolgende vertoë oorweeg en bespreek het, sal die finale konsep van die sakereddingsplan gepubliseer word. Krediteure sal dan daaroor stem op ’n vergadering wat spesifiek vir dié doel saamgeroep sal word,” sê die sakeredders in die verklaring.

Dié vergadering moet binne tien dae nadat die plan gepubliseer is, gehou word.

Die sakeredders sê in die verklaring hulle bepaal nog wat die verwagte uitwerking van die reddingsplan op belanghebbendes sal wees, waaronder die geraamde opbrengs aan krediteure.

“Ons glo die verdere verlenging van ’n maand sal aan ons genoeg tyd gee om die konsepplan af te handel.

“Ons beoog dan om die plan aan die krediteurekomitee, die werknemerskomitee en die aandeelhouer te kommunikeer voordat dit aan die publiek beskikbaar gestel word,” sê hulle.

Alf Lees, DA-LP, het Donderdag in ’n verklaring gesê die DA is nie verbaas dat die sakeredders uitstel gevra het nie.

LEES OOK: SAL-sakeredding: Nog geen teken van plan

Lees sê daar is ’n totale gebrek aan dringendheid om probleme by die lugdiens op te los omdat krediteure weet aangesien die staat wéér ’n reddingsboei goedgekeur het, hulle hul geld sal kry.

Tito Mboweni, minister van finansies, het Woensdag in sy begrotingsrede gesê die SAL sal nog R16,4 miljard kry om te help om sy staatsgewaarborgde skuld en die rente op sy skuld terug te betaal.

Derek Mans van die vakbond Solidariteit sê hoewel hulle die aansoek om uitstel ondersteun, is hulle bekommerd oor hoe geloofwaardig die proses is nadat vir die tweede keer om uitstel gevra is.

Hy sê hulle is ook bekommerd daaroor dat die sakeredders na hul mening nie vakbonde "betekenisvol" konsulteer nie.

Mans sê hulle dring nou daarop aan dat die sakeredders die finansiële state van die SAL en die konsepsakereddingsplan aan vakbonde voorlê sodat hulle genoeg tyd het om weldeurdagte terugvoering daarop te lewer.

Meer oor:  Les Matuson  |  Sakeredding  |  Sal  |  Suid-Afrikaanse Lugdiens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.