Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAL: Sakeredders vergader met krediteure, werkers
Sakeredders wat by die SAL aangestel is, vergader Vrydag met krediteure en werknemers. Foto: Reuters

Die sakeredders wat by die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) aangestel is, het Vrydag vir die eerste keer met krediteure én werknemers van dié lugdiens vergader.

Die sakeredders glo dat die SAL wel gered kan word mits die beloofde finansiering aan die lugdiens beskikbaar gestel word én solank alle belanghebbendes saamwerk om die plan tot uitvoer te bring.

Die staat het reeds bevestig hy gaan ’n lening van R2 miljard aan die SAL waarborg as deel van sy sakereddingsplan en self óók R2 miljard aan die lugdiens gee.

LEES OOK: Staat gaan miljarde leen én waarborg vir SAL

Die vergadering, wat by ENSafrica se kantore in Sandton gehou is, het net meer as ’n halfuur geduur.

Die sakeredders het in dié vergadering gesê hy het aansoek gedoen om uitstel tot 13 Januarie 2020 vir die publisering van die sakereddingsplan.

Dit is later bevestig dat goedkeuring verleen is om die plan vóór einde Februarie te publiseer. Dié besluit is glo geneem juis weens die kompleksiteit wat sakeredding van die SAL gaan behels.

Dié plan moes volgens die reëls van sakeredding 25 dae nadat die sakeredder aangestel is, gepubliseer word.

Les Matuson is oorspronklik deur die SAL as die enigste sakereddingspraktisyn op 5 Desember aangestel.

Dit beteken die plan moes teen 30 Desember gepubliseer word.

Daar was glo geen teenkanting van enige van die krediteure wat die vergadering bygewoon het teen die aansoek om uitstel nie.

Matuson was voorheen die sakeredder wat by onder meer die meubelgroep Ellerines aangestel is. Dié groep kon egter nie gered word nie en nadat van sy bates verkoop is, is dit gelikwideer.

Alvarez & Marshal (A&M), ’n Amerikaanse maatskappy wat in herstrukturering spesialiseer, is ook reeds gevra om die sakeredders by te staan.

Volgens ’n persoon wat die vergadering bygewoon het is gesê A&M het “glo baie ondervinding in lugvaart”.

A&M het ook glo die sakeredding hanteer van Lehman Brothers in die VSA en onlangs Edcon in Suid-Afrika.

Julleite du Hutton, vennoot by Bowmans, is aangestel as voorsitter van die krediteurekomitee terwyl Cloete Murray as voorsitter van die werkerskomitee aangestel is.

Cloete is die sakeredder wat die vakbond Solidariteit oorspronklik wou aanstel om die sakeredding van die SAL te behartig. Matusen het op 6 Desember ingestem dat Murray ook by die proses betrek word.

Dié vakbond het oorspronklik op 21 November ’n aansoek by die hooggeregshof in Johannesburg ingedien om die SAL in sakeredding te plaas.

Die SAL het egter op 5 Desember besluit om eerder om vrywillige sakeredding aansoek te doen.

Dié besluit is verwelkom, hoewel vrae gevra is oor of die staat as enigste aandeelhouer die sakeredders sal toelaat om werklik hul taak onafhanklik uit te voer.

Volgens Netwerk24 se bron is geen verdere besonderhede oor die sakereddingsplan tydens die vergadering bespreek nie.

Siviwe Dongwana

Persone wat die vergadering bygewoon het, is wel ingelig dat die lugdiens op 18 Desember besluit het om Siviwe Dongwana as tweede sakeredder aan te stel.

Dongwana is die medestigter en direkteur van Adamantem.

Adamantem beskryf homself op sy webtuiste as “ ’n professionele diensonderneming wat spesialiseer in ouditering en boekhouding, korporatiewe advies, korporatiewe bestuur en risiko- en strategiedienste.”

Dongwana het ’n B.Com-graad van die Universiteit van die Witwatersrand en is ’n geoktrooieerde rekenmeester.

In ’n brief aan die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom (CIPC) sê die SAL gegewe die kompleksiteit van die sakereddingsproses en die grootte van die maatskappy, is dit gepas om ’n tweede sakeredder aan te stel.

Luidens dié brief het die SAL tans 5 421 werknemers en beloop sy derdeparty-aanspreeklikheid R20,4 miljard.

Matuson sê in 'n verklaring na afloop van die vergadering dat sedert hy aangestel het, het hy reeds "met talle belanghebbendes vergader, waaronder die departement van openbare ondernemings, die tesourie, verteenwoordigers van vakbonde, die Internasionale Lugvervoervereniging en ander handelsvennote, geldskieters, ensomeer.

" 'n Mandaat is aan A&M gegee om 'n objektiewe, onpartydige oorsig van die bedrywighede van die SAL saam te stel."

  • Die berig is aangepas na oorspronklike publikasie om verwikkelinge korrek weer te gee.
Meer oor:  Sal  |  Suid-Afrikaanse Lugdiens  |  Les Matuson  |  Sakeredding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.