Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAL ‘gered’, maar baie probleme lê voor

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) is nie meer in sakeredding nie, maar ’n nuwe sakemodel moet nou deur die nuwe bestuur opgestel word.

Dit kan meebring dat filiale soos AirChefs, Mango en SAL Tegnies sneuwel.

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens se sakeredding het op 5 Desember 2019 begin.

Vrydag is aangekondig die sakeredders, Siviwe Dongwana en Les Matuson, het amptelik die leisels van die beleërde lugdiens aan die nuwe bestuur oorhandig. Thomas Kgokolo is onlangs aangewys as die nuwe uitvoerende hoof.

Dit kom byna 17 maande nadat die lugdiens in Desember 2019 in sakeredding geplaas is.

Die sakeredders kon nog nie vir kommentaar bereik word nie.

Kgokolo het vroeër gesê dat die lugdiens waarskynlik weer in Augustus sal vlieg.

Ekwiteitsvennoot gesoek

In ’n verklaring verwelkom die departement van openbare ondernemings Vrydag die verwikkeling.

“Die sakereddingsproses het die herstrukturering van die SAL meegebring en het sy kostebasis en sy laste verklein, wat ’n volhoubare onderneming geskep het soos dit in die toekoms inbeweeg,” sê die departement.

“Die sakeredders oorhandig ’n solvente onderneming aan die SAL-direksie.”

Maar volgens die departement is die werk ver van klaar.

Die nuwe direksie moet ’n nuwe sakemodel opstel om die lugdiens aan die gang te hou totdat ’n strategiese ekwiteitsvennoot bekom kan word.

Die departement sê gesprekke is in ’n gevorderde stadium om die vennoot te identifiseer en ’n aankondiging word binne weke verwag.

Die vennoot sal die lugdiens deels privatiseer, en “kapitaal en broodnodige tegniese en kommersiële kennis” na die lugdiens bring wat ’n “mededingende” lugdiens sal meebring.

Historiese skuld

Die SAL is ook verlos van geskiedkundige skuld.

Die sakeredders het ’n stelsel geskep wat sal verseker dat alle skuld oor ’n periode van drie jaar aan die relevante partye oorbetaal word, sonder die inmenging van die SAL en sy nuwe direksie.

Die nuwe direksie sal die bedryf en finansiële bestuur van die SAL se filiale, AirChefs, Mango en SAL Tegnies, moet oorneem.

In die verklaring sê die departement dat dié filiale herstruktureer sal moet word, en dat “van hulle” se voortbestaan herevalueer sal moet word.

Vlieëniers

Intussen het die sakeredders nie betyds ’n ooreenkoms met die SAL-Vlieëniersvereniging (Saapa) gesluit nie.

Saapa betwis tans in die howe sowel die skeidingspakkette wat vlieëniers moet ontvang as deel van die art. 189(3)-afdankingsproses as die diensvoorwaardes en pakkette van diegene wat heraangestel sal word as deel van die nuwe SAL.

Die sakeredders het op 1 April ’n finale aanbod aan Saapa gedoen wat aan die meeste van hul eise voldoen het, maar Saapa wou nie skik nie.

Volgens die sakeredders sou dié aanbod verval sodra hulle uittree.

Die departement sê in sy verklaring die nuwe direksie sal nou voortgaan met onderhandelinge en die hofsake met Saapa.  

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.