Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAL-sakeredding vaag, nóg uitgestel
Die Suid-Afrikaanse Lugdiens sê sy bedrywighede gaan voort soos normaal. Foto: Reuters

Daar is steeds geen plan vir die redding van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) nie.

Dít terwyl die sakereddingspraktisyns glo vroeër vir die werkerskomitee gesê het die R5,5 miljard wat sedert 5 Desember in die reddingspoging ingeploeg is, gaan teen einde Februarie klaar wees.

Nugter weet wat nou gaan gebeur, het Derek Mans, Solidariteit se verteenwoordiger in die lugdiensbedryf, gesê nadat die SAL se krediteure die sakereddingspraktisyns Vrydag nóg ’n maand uitstel gegee het om hul plan voor te lê.

Dit is hul tweede uitstel. Solidariteit sê hy is bekommerd dat die sakereddingspraktisyns, Les Matuson en Siviwe Dongwana, die komitee wat SAL-werkers verteenwoordig nie behoorlik raadpleeg nie.

Daar is geen duidelikheid oor waar die geld heen gaan, waarop die praktisyns hul besluite grond en wie hulle adviseer nie, sê Solidariteit.

Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Kajuitpersoneel en die metaalwerkersvakbond Numsa steun dié standpunt.

Die praktisyns het die afgelope week nie gereageer op vrae van Rapport oor die koste van hul eie dienste en dié van adviseurs wat hulle aangestel het om te help met die redding nie.

Solidariteit dring daarop aan dat die werkerskomitee volle toegang kry tot die SAL se huidige finansiële state, sakeplan en konsep-reddingsplan.

Die vakbond het dié eise aan die onafhanklike voorsitter van die komitee, Cloete Murray, gestuur en wag op reaksie van die reddingspraktisyns.

Kapt. Grant Back, voorsitter van die SAL-vlieëniersvereniging, het ook die vereniging se ontevredenheid uitgespreek omdat hulle nie geken is in besluite soos die onlangse kansellasie van roetes nie. Die vereniging steun egter die verlengde spertyd in die hoop dat dit geleentheid bied vir behoorlike konsultasie oor die reddingsplan.

Een van die SAL se groot krediteure het aan Rapport laat blyk dat hy dit oorweeg het om teen die uitstel te stem omdat die rede daarvoor nie duidelik is nie.

Ten slotte het hulle egter ten gunste daarvan gestem in die hoop dat die reddingspraktisyns op die ou end darem iets kan beredder.

Die streekslugdiens Airlink het ook die uitstel gesteun. Airlink se uitvoerende hoof Rodger Foster het aan Rapport gesê: “Airlink verstaan die rede vir die vertraging en hoewel ons wil hê dat die plan so gou moontlik vir goedkeuring voorgelê moet word, besef ons dat daar baie op die spel is en dis belangrik om dit reg te doen.”

Airlink wag steeds op uitspraak in hul dringende hofaansoek dat die reddingspraktisyns binne vyf dae meer as R500 miljoen aan hom moet betaal vir inkomste uit Airlink-vliegkaartjies wat die SAL as agent namens Airlink verkoop het.

Matuson en Dongwana het Woensdag in die brief waarin hy uitstel gevra het aan krediteure gesê hulle het ’n voorstel ontwikkel vir die herstrukturering van die SAL. Hulle werk nou aan ’n konsepplan om oor ’n maand aan krediteure voor te lê.

Mans sê hoewel Solidariteit inval by die krediteure se besluit om uitstel te gee, is hy bekommerd dat die sakereddingsproses sy geloofwaardigheid verloor weens die gebrek aan deursigtigheid.

Tito Mboweni, minister van finansies, het Woensdag in sy begrotingsrede R16,5 miljard opsy gesit vir die terugbetaling van die SAL se staatsgewaarborgde skuld en rente op sy lenings.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.