Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAL sal nie oorleef in wêreld ná Covid-19 – Outa

Die regering kan dit doodeenvoudig nie bekostig om nog etlike miljarde rande te bestee aan ’n lugdiens wat nie eens die onstuimigheid die komende drie jaar sal oorleef nie.

Die SAL se sakereddingsplan neem nie die jongste data van die Internasionale Lugvaartvereniging (Iata) in berekening nie. Foto: Getty Images

Dit is die boodskap van die Organisasie Teen Belastingmisbruik (Outa), wat Maandag in ’n verklaring gereageer het op die jongste data van die Internasionale Lugvaartvereniging (Iata) wat wys dat daar te min passasiers in 2021 tot 2023 sal wees om ’n “nuwe” plaaslike lugdiens aan die gang te hou.

Outa sê die huidige sowat R10,5 miljard se reddingsboei wat die lugdiens kort om sy sakereddingsproses af te handel, is gegrond op ou data wat “veels te optimisties” is.

Iata se jongste verslae dui daarop dat lugvaart in Afrika kan verwag om teen 2021 slegs 45% van sy passasiers teenoor 2019 te hê.

Daar is bloot te min passasiers vir die SAL om te oorleef, al kry hy nou sy miljarde.

En die lugdiens sal in werklikheid waarskynlik baie meer geld benodig as die sakeredders hul plan sou aanpas om Iata se jongste data in te sluit.

Enige verbintenis om die SAL se sakereddingsplan te finansier op grond van verouderde en gebrekkige data, kom daarop neer om goeie geld in ’n slegte saak te stort.
Julius Kleynhans van Outa

“Na ons mening kan die SAL se versoek om geld van die tesourie te kry nie geregverdig word nie, en as die bygewerkte faktore in ag geneem word, kan die tesourie anders reageer, wat beteken dat enige verbintenis om die SAL se sakereddingsplan te finansier op grond van verouderde en gebrekkige data, daarop neerkom om goeie geld in ’n slegte saak te stort,” sê Julius Kleynhans, Outa se uitvoerende bestuurder oor openbare bestuur.

Terwyl die SAL sedert Desember 2019 sloer met sy reddings- en herlewingsplanne, wys onlangse aankondigings oor vennootskappe tussen Emirates en Qatar met plaaslike private lugdienste soos Airlink en FlySafair dat dit ’n negatiewe impak op die SAL se reeds verkleinde markaandeel sal hê.

“Albei hierdie onlangse aankondigings sal die SAL se vermoë om sy vorige teikens te bereik wat in die onlangse sakereddingsplan voorgestel is, kniehalter, en dit steun dus die beroep van Outa op die tesourie om die reddingsplanne wat hy vir die SAL het, te heroorweeg en te kanselleer,” sê Kleynhans.

Dr. Joachim Vermooten, vervoer-ekonoom, sê ook dat die SAL nie kan meeding met die lugdienste wat wel oorleef het nie.

Volgens hom sal internasionale lugdienste of op hul eie, of deur vennootskappe, hul sterk markkrag gebruik om die mark met opsies te oorspoel. Hul veerkragtigheid deur die afgelope moeilike tydperk sal beteken hulle kan oorleef waar die beleërde SAL nie sal kan nie.

Pryse sal ook beduidend beter wees vir die internasionale lugdienste se vlugte, iets wat die SAL nie sal kan bekostig om te doen nie aangesien sy miljarde rand se skuld in swak rand betaal moet word.

Vermooten sê hy is oortuig daarvan om die lugdiens weer op die been te kry sal miljarde meer kos as wat in die sakereddingsplan uiteengesit is.

Tito Mboweni, minister van finansies, lewer Woensdag sy rede oor die mediumtermynbegrotingsraamwerk en Outa verwag dat hy sal aankondig watter soort ondersteuning vir die SAL gebied sal word.

“Daar is belangriker sake om aan aandag te skenk as om tiene miljarde rande oor die volgende paar jaar in te pomp by ’n lugdiens wat as ’n staatsonderneming onsuksesvol was,” sê Kleynhans.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.